Die Onse Vader-gebed (6)

Quintus Heine

Matteus 6:12 "En vergeef ons ons oortredings."

Behalwe dat God vir ons sorg in ons daaglikse behoeftes, is die vergewing van sondes die grootste wonder op aarde. Sonde het 'n skeiding tussen die mens en God gebring. God het 'n oplossing vir daardie skeiding gebring naamlik vergewing van sondes. Net soos ons nie sonder ons daaglikse behoeftes (brood) kan leef nie – kan ons ook nie lewe sonder vergifnis van sondes nie. Ons is afhanklik van ons daaglikse bestaan (brood) van God, so is ons ook van God afhanklik vir ons daaglikse geestelike vryheid. Die bande van die sonde beperk ons lewensruimte.

Hoe vergewe die Here ons? Om vergifnis vir ons sonde by die Here te vra, beteken dat ons ons sonde moet besef en erken. Omdat ons in die wêreld leef, kom kleef die verkeerde aan ons soos klitsgras. Daarmee saam worstel ons daagliks om ons eie ek in toom te hou. Met berou in ons harte moet ons daardie bewustelike sonde voor die Here bely. Om te erken dat jy en ek vol sonde is, is maar 'n moeilike een. Ons probeer op verskillende maniere ons eie skuld ontduik. Soms sal ons met die lippe erken ons is skuldig, maar in ons harte sal ons die verkeerde troetel. Maar om daad by die woord te voeg, vra 'n hartsbekering, dit vra dat ons voor die Here in opregtheid ons sonde sal bely en sy vergifnis sal soek. Dan eers is ons vry om Hom te dien en te leef!

Vergifnis is ook 'n nuwe begin: Wanneer God vergewe, is dit weg. Hy vee dit heeltemal uit. Hy het reeds daarvoor aan die kruis betaal. Jy begin met 'n skoon bladsy leef. Daar kom 'n geestelike vryheid in jou lewe wat woorde nie kan beskryf nie. God vergewe ook nie net een keer nie, maar elke keer weer en weer. Wie vergifnis ontvang, sal leer om al hoe harder teen die sonde te stry. Dit is dus nodig om elke dag hierdie gebed vir die Here te bid:

Here – ek bely my sondes voor U en weet dat net U dit kan vergewe – dankie dat U dit vergewe deur Jesus Christus se kruisdood.

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.