Die Onse Vader-gebed (7)

Quintus Heine

Matteus 6:12 "Soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree."

Vir baie mense is die bede van die Onse Vader-gebed net een te veel. Dit vra te veel. Vanweë die mens se eie ek, vergewe hulle baie moeilik ander mense. Hulle weet dat God hul sondes vergeef, maar is nie altyd gewillig om ander te vergewe nie. Dit is nie altyd vir mense aanvaarbaar dat dit die Here se wil is dat hulle ander mense moet vergewe soos Hy hulle sondes vergewe nie. Dit is wat die gebed vra.

Die Here Jesus het hierdie bede in sy modelgebed ingevoeg omdat Hy geweet het dat ons nie volkome vry en  voluit sal kan leef of 'n vrye gebedsverhouding met God kan hê, as ons nie geleer het om ander mense volkome te vergewe nie. Daar is baie mense wat hier lees en nou besef dat daar moontlik iemand is wat hulle nie kan vergewe nie of sukkel om te vergewe. Gee vandag daardie persoon oor in die hande van die Here, vergewe hom/haar  volkome. Seën hulle van nou af met die liefde waarmee die Here jou seën. As hulle bewus was van jou onvergewingsgesindheid, moet jy vir hulle gaan sê dat jy hulle vergewe het. Dan eers gaan jy vry kan leef as Christen. Onvergewensgesindheid kan jou fisies siek maak en kan keer dat jy 'n geseënde gebedsverhouding met God het.

Dit beteken dat ons nie net halfpad moet vergewe nie. Egte vergifnis is om die ander heeltemal kwyt te skeld. Om te vergewe is om iemand vry te spreek en dit maak jouself ook vry! Dit is om die kwaad en bitterheid heeltemal los te laat en die bladsy skoon te maak. Dit is om aan ander die kans te gee om ook van voor af te begin – soos Christus vir jou die kans gegee het. Hierdie gebed leer ons om dit elke dag te doen!

            Here help my om onvoorwaardelik hulle te vergewe wat teen my gesondig het.

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.