Die Onse Vader-gebed (8)

Quintus Heine

Matteus 6:13 "En laat ons nie in versoeking kom nie."

Ons vra in hierdie gebed dat God ons in staat sal stel om staande te bly teen versoekings. Dit gaan in die bede oor geestelike groei en ons gehoorsaamheid aan God.

Versoekings: Ons word daagliks verlei om ongehoorsaam aan God te wees. Ons word verlei om die sonde te geniet en verval dan in verkeerde gedagtes, begeertes, swak verhoudings en ongeloof. Dit is nooit die Here wat ons in versoeking lei nie (Jakobus 1:13), maar nêrens in die Bybel beloof die Here vir ons 'n lewe sonder stryd teen versoekings nie. As Christen moet ons daagliks veg teen die aanslae van die Satan. Hierdie gebed wil dat ons daagliks sal bid dat die Vader ons sal help om nie in die strikke van die Satan vas te val en toe te gee nie !

Ons kan nie alleen nie: Paulus noem in Romeine 7:19 "Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek" (lees Romeine 7:15-19). Ons geloofsvaders het gesê: "Selfs ons beste dade is met sonde bevlek". Al probeer ons ons bes en werk ons hard aan ons geestelike lewe, sal ons nooit uit ons eie al die versoekings van die lewe kan weerstaan nie, daarom leer die Here ons om hierdie gebed te bid. Ons kan nie die sonde uit onsself teëstaan nie, maar moet elke dag in afhanklikheid van God leef. Die Here moet ons daagliks help om nie voor versoekings te swig nie As jy dit self probeer doen, gaan jy gou besef dis nie moontlik nie. Jy moet elke dag tot die Here bid om jou te help om die versoekings van daardie dag te weerstaan. Jy hoef nie daaraan toe te gee nie, want Christus, wat die oorwinnaar is, sal jou help. (Môre gesels ek oor die oorwinning van Christus oor die bose.)

Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.