Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Sy koninkryk in my maak my sout - 14 Junie 2013

Carina Francke

Jesus sê in Matt 5:13: "Julle is die sout van die aarde. Maar  as die sout verslaan het, (sy krag verloor het Mark 9:50) hoe kry 'n mens dit weer sout?  Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi en die mense vertrap dit."

Ons het gister gesels oor hoe ek en jy as ligdraers  met God saamwerk om Sy heerskappy op aarde "sigbaar te maak" in die manier waarop ons leef.  Vandag kom die metafoor sout aan die beurt.

In Bybelse tye was sout beskou as 'n simbool van konstantheid en getrouheid, daarom is dit gebruik om ooreenkomste te bevestig. Israel het dit ook in hulle godsdiensbeoefening gebruik as teken van die ewige aard van hulle verhouding met God (Lev 2:13).

As Jesus dus die gelowige as die sout van die aarde proklameer, herinner Hy ons aan die konstante verbondsverhouding wat tussen Hom en ons bestaan. Ons "sout-bly en sout-wees" word óns beantwoording aan Sy verhouding met ons.

Israel se sout was afkomstig van die suidelike oewers van die Dooie See (Sef 2:9) en was van 'n rots- of fossielvariëteit wat sy chemiese kwaliteite kon verloor. Jesus trek hierdie kennis in Sy proklamering van ons as sout in as Hy sê: "..as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê...."(Mark 9:49, 50).  Ons suiwerheid en smaak word gekontamineer as ons ons kenmerkende geloof verloën of as ons  leefwyse geskoei word  op enigiets anders as Godwaardes soos dit in die Woord opgeteken is.

Sout werk verrotting teë, daarom kan die Christus-gelowige 'n invloed op die wêreld uitoefen. Ons "andersheid" - die manier hoe ons leef, met mense omgaan, besigheidstran- saksies beklink, of doodgewoon net as ambassadeurs van die enige God optree, werk bederfwerend in op ons eie lewens en strooi sout oor 'n smaaklose wêreld.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U soveel vertroue in my stel dat U my as sout in my leefwêreld wil gebruik.  Laat my lewe nooit souteloos in U mond wees nie. Amen.

Previous article: Sy koninkryk in my versprei geur - 18 Junie 2013 Prev Next article: Sy heerskappy in my maak my lig - 13 Junie 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.