Sy koninkryk in my versprei geur - 18 Junie 2013
Carina Francke
2 Kor 2:14-16:"Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as die wat verlore gaan."
Die laaste metafoor in hierdie reeks hoe om Sy heerskappy op aarde "sigbaar te maak" in die manier waarop ons leef, is om 'n geur of reuk te wees.
Jy voel soos 'n verloorder en skynheilige: jy probeer om die koninkryk van God op aarde sigbaar te maak deur by mense betrokke te wees en dit terwyl jy worstel met dinge in jou eie lewe waaroor jy nie oorwinning kan kry nie; of jy loop 'n ondersteunende en geestelike pad met iemand, net om later te ontdek dat hy teruggly in sy ou gewoontes.
Hoor dan wat leer ons vers vir die dag:
Jou eenheid met Christus deur jou geloof, waarborg jou deelname in God se triomftog, ongeag jou teleurstellings en nederlae. Te midde van jou worsteling met jou eie swakhede, gebruik God jou steeds as geur om jou kennis oor Christus in 'n stukkende wêreld te versprei. Daarmee verklaar Hy sy algehele betrokkenheid in jou lewe, asook Sy liefde vir diegene wat verlore gaan, en marsjeer Hy onstuitbaar voort op Sy triomftog.
Ek en jy hoef dus nie slapelose nagte te hê oor ons skynbare onvermoë om sukses oor onsself of mense te behaal nie. Fil 2:13 stel dit so: God werk in ons om te wíl werk en op so 'n manier te werk dat Hy daarmee tevrede is (my parafrase)- en dit sluit die werk aan jou eie worstelinge en onvermoëns in.
Ons verantwoordelikheid in die verspreiding van geur, lê in die eerste plek by ons gewilligheid om bruikbaar te wees. Ons moet wíl reuk versprei sodat die twee genoemde groepe mense die boodskap van die aroma kan kry en daadwerklik kan optree. Vir diegene wat verlore gaan, is jy 'n doodsreuk wat moet herinner aan hulle geestelike dood, terwyl die gelowige 'n geur van lewe ruik, omdat hulle die Oorsprong van die geur herken en weet dat hulle deur Christus as wierook vir God gebrand word.
Die gelowige het in die tweede plek die verantwoordelikheid om meer oor Christus te weet, want die reuk wat ons versprei, is tog immers die kennis wat ons van Hom het. Hierdie kennis behels egter meer as net Sy dood en opstanding, dit vra 'n intieme en toegewyde verhouding met Hom. Dit is 'n verhouding waar ons Sy gebod van liefde sonder vrae gehoorsaam, en waar ons die belofte ontvang dat Hy hom aan ons sal openbaar. (John 14:21)
Gebed: Ons Vader, wat 'n verbysterende gedagte dat U van 'n mens gebruik maak om Jesus se geur aan mense bekend te stel. Laat ons nooit die eenheid verbreek wat tussen ons, Jesus en U bestaan nie. Amen.