Dra vrug - Gee - 28 Junie 2013
Carina Francke
"Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is. (Hebr 13:15,16)
Dankbaarheid wil jou laat goed doen aan ander, maar hoe doen ek goed aan God vir alles wat Hy in my lewe deur Jesus Christus gedoen het? Hoor wat leer ons vers vir die dag: bring offers.
Bring 'n onophoudelike lofoffer aan God. Met my mond besing ek Sy naam en prys ek Hom vir Sy grootheid, genade en betrokkenheid in my lewe omdat ek deel van Christus is. Met my woorde getuig ek ook teenoor ander dat Hy die enige, ewige God is wat mense so liefhet, dat Hy sy Seun gegee het om hulle vry te koop.
'n Offer impliseer dat iets doodgemaak word vir 'n spesifieke doel. Ek vind dit nodig om gereeld my eie-ek, vrese, selftrots en traagheid dood te maak sodat Hy 'n onbedorwe, suiwer offer van my lippe kan ontvang. Maar dan die besef: die fondasie en aanvaarding van my lof lê slegs in die offer wat Jesus Christus gebring het - Sy lewe! Dit is net deur Hom, in Hom, met Hom en tot Hom dat ek 'n aanvaarbare lofoffer aan God kan bring.
Die tweede offer wat vir God aanneemlik is, is mededeelsaamheid en goeie dade - al weet niemand daarvan nie. Uit dankbaarheid vir die genade en seën van die Here in ons lewens, behoort ons eintlik oor ons eie voete te val om te gee, ongeag hoeveel jy besit. Die gemeente in Macedonië het byvoorbeeld oorvloedig gegee, al was hulle baie arm, want vir hulle was gee 'n liefdesdaad. Die vrug van hulle mededeelsaamheid? Dit voorsien in ander se behoeftes; God word gedank en grootgemaak en hulle bid vir diegene aan wie hulle gee. (2 Kor 9:12-14.)
Gebed: Gewer van alle goeie gawes, ek loof U dat ek u kind mag wees en dat U my met soveel genade en seën verryk. Dankie dat ek ander kan seën met alles wat uit U hand kom. Amen.