Dra vrug - vergewe - 27 Junie 2013
Carina Francke
"Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het." Efe 4:32
Waarom sukkel ons so om iemand te vergewe wat ons te na gekom het? Dalk ons ego wat ons oortuig dat ons reg het om kwaad te bly?; ons verdraaide sin van geregtigheid dat kwaad-bly die ander party straf?; ons trots om die eerste treë te gee om verhoudinge te herstel?
Hoe dit ookal sy, ons weiering om te vergewe, verbreek die "eenheid wat die Gees onder ons as gelowiges gesmee het omdat ons nie die band van die vrede (wil) bewaar nie." (Efe 4:3) Maar dis nie al nie, wanneer ons nie wil vergewe nie, maak ons self die deur van vergifnis vir ons oortredinge by God toe: "As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie verewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie."(Matt 6:14,15).
Waarom hierdie skokkende waarskuwing? Want, as ons nie ander vergewe nie, ontken ons die een ding wat ons in gemeen het, naamlik dat ons sondaars is wat nodig het dat God ons vergewe. Hy vergewe ons nie omdat ons ander vergewe of een of ander wet onderhou nie, maar alleenlik as gevolg van Sy groot genade. Soos ons vers vir die dag sê: Hy vergewe ons in Christus.
As jy dit verstaan, kom jy diep onder die besef dat jy eintlik 'n geseënde van God is omdat jou sonde nie teen jou gehou word en jy daarvoor gestraf word nie.(Rom 4:7,8). Hoe kan ons dan weier om ander te vergewe?! My vergifnis aan ander mense word my lofsang van dankbaarheid teenoor Hom omdat ek Sy geseënde is en verder word my vergifnis 'n refleksie van God se vergifnis vir alle mense.
Natuurlik kom vergifnis nie vanself nie. Dit is 'n voortvloeisel van God wat in my werk om te wil vergewe.....maar dit vra my samewerking: ons moet Sy "werk in ons " gehoorsaam en dan 'n wilbesluit neem om te vergewe. Dit is presies wat Stefanus gedoen het toe hy sterwend vir sy moordenaars bid: "Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!" (Hand 7: 60)
Gebed: Here, sonder U vergifnis aan my, sou ek steeds in sonde opgesluit gewees het, maar nou is ek U geseënde - U het my vergewe. Dankie daarvoor en dankie dat U my in staat stel om ander mense sonder ophou te vergewe. Amen.