Laat reg geskied, bewys liefde en trou, lewe bedagsaam voor God 16 Julie 2013
Xanthe Galanis
Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding? Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Miga 6:7-8
Party dinge verander nooit. Korrupsie was net so algemeen in Juda in die 7de eeu v.C. as wat dit in so baie lande, insluitend Suid-Afrika, in die 21ste eeu n.C. is. In Miga se tyd was baie van die godsdienstige leiers korrup. Meeste van die profete het goeie nuus gebring vir diegene wat omkoopgeld betaal het, terwyl diegene wat nie wou betaal nie, slegte nuus ontvang het. Die idee het bestaan dat as jy 'n goeie lewe leef en die regte persoonlike offers bring, is jou saak met God ook reg.
Die idee bestaan steeds en Miga se reaksie daarop is vandag nog net so van toepassing as destyds. Die Here maak dit baie duidelik dat ons nie net vir ons sondes kan vergoed deur iets waardevol aan Hom te offer of voor te gee dat ons baie regverdig leef nie. Soms is dit wat ons moet doen baie eenvoudig, of hoe? Ons moet reg laat geskied – vertel ek die waarheid? Skuld ek iemand iets? Ons moet liefde en trou bewys – behandel ek 'n persoon met liefde wanneer ek in staat is om hom te help? Leef ek op so 'n manier dat ek ander eerste stel? En ons moet bedagsaam voor God leef – wanneer ek besluite neem gaan dit oor hoeveel ek sal baat, of oor die koninkryk van God? Dink ek my goeie dade is wat tel, terwyl my hart ver van God af is?
Die onveranderlike wette van God is regverdig, en ons almal het 'n persoonlike verantwoordelikheid om dit te onderhou – om reg te laat geskied, om liefde en trou te bewys, om bedagsaam voor God te leef.
Gebed: Here, U is goed. Om U te volg benodig nie groot rykdom of baie kennis nie, net 'n nederige en bedagsame hart. Dankie dat ek alles wat U van my verlang deur Jesus Christus kan doen. Amen