Verstandig of paranoïes? 17 Julie 2013
Verstandig of paranoïes?
Xanthe Galanis
'n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor. Wie nederig is, dien die Here en ontvang rykdom, eer en lewe. Spreuke 22:3-4
Om die Beloofde Land in te gaan, moes Israel deur die Jordaanrivier wat in vloed was, trek. (Josua 3). God het hulle beloof dat wanneer die priesters wat die ark van die verbond dra, se voetsole aan die water raak, sal die water van die Jordaan afgesny word. Stel jou voor. Wat moes deur hulle gedagtes gegaan het terwyl hulle op die oewer van die vol rivier staan. "Kan ons nie maar wag totdat die water afgeloop het nie? Hoekom moet ek eerste in die water in stap? Sê nou die water word nie afgesny nie en ek verdrink?"
Om 'n hele volk in 'n vol rivier in te lei, klink nie na die mees verstandige plan nie, maar die verse uit Spreuke laat 'n mens besef dat Josua se plan die regte een was. Dit is wat verstandigheid is; dit beteken dat wanneer jy iets moet beoordeel of 'n besluit moet neem, moet jy dit verstandig en versigtig oorweeg. As ons verstandig is en die Here in nederigheid dien, sal Hy ons help om nie oop oë in onheil te beland nie.
Niemand wat die Israeliete dopgehou het sou hulle geblameer het indien hulle ietwat paranoïes geraak het nie. Dit is 'n klein treetjie tussen verstandigheid en paranoia. Die verstandige mens dra 'n veiligheidsgordel; die paranoïese vermy karre heeltemal. Die verstandige mens beplan en berei voor, die paranoïese raak paniekerig. Die verstandige mens bereken die risiko en spring in; die paranoïese sit nooit eers sy voet in die water nie. Die verskil is om nederig te wees en God te vertou. Paranoia neem oor wanneer ons op onsself vertrou en dan besef dat ons onsself nie kan red nie. Josua het die Here vertrou en sy lewe en die lewe van al die Israeliete in die hande van God geplaas en hy is ryklik beloon.
Gebed: Here, help my om verstandig te wees in alles wat ek doen, want ek weet dat as ek nie na U luister nie en my eie pad loop, bring ek angs en vrees oor myself. Help my om verkeerde dinge te vermy en die versoekings in my lewe deur my geloof in Jesus Christus te oorkom. Amen