Nederige ambisies 19 Julie 2013
Nederige ambisies
Xanthe Galanis
Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Filippense 2:3-4
In die woordeboek word beskeie as 'n sinoniem vir nederigheid gegee. Wat beteken dit? Beteken dit dat indien ons daarna streef om in ons daaglikse lewe Christelike nederigheid uit te leef, ons al ons ambisies en al ons drome moet afskryf?
Geensins! Paulus maak dit duidelik dat die motief agter dit wat jy wil bereik belangrik is. Hy het die brief aan die Kerk in Filippi geskryf omdat van die mense daar deur hulle gesindheid en aksies verdeeldheid gesaai het. Hulle wou erkenning hê vir dit wat hulle gedoen het en daarom was dit vir hulle onmoontlik om in liefde met ander in die kerk saam te werk. Hulle selfsugtige ambisie en desperate pogings om 'n goeie indruk te maak, het die kerk se eensgesindheid geruïneer. Dit is hierdie selfde ambisie wat vandag nog vrede en eensgesindheid in die werkplek en in gesinne vernietig.
Dit moet vir ons duidelik wees wie ons wil verheerlik. Wat jou werk ook al mag wees, dit is belangrik om doelwitte te stel vir die projekte waarmee jy besig is en om met toewyding te werk om hierdie doelwitte te bereik. Maar vra jouself die vraag; werk jy hard ter verheerliking van God of om deur jou baas raakgesien te word? Die Here verdien die beste wat jy kan gee, en Hy wil hê dat jy jou talente op die bes moontlike manier moet gebruik.
Dink vandag 'n oomblik na oor al jou ambisies. Indien jy al jou huidige doelwitte bereik, wie gaan die eer kry? Doen jy dit vir jouself of vir die Here? Dink na en stel vas of jy miskien enige verstellings aan jou doelwitte moet maak, en vra die Here biddend om jou te help met jou persoonlike ambisies sodat sy wil in jou lewe kan geskied.
Gebed: Here Jesus, vergewe my die kere wat ek dinge vir my eie eer doen. Help my om hard te werk en om dit wat ek doen, met entoesiasme aan te pak tot u eer alleen. Amen