Nederigheid teenoor vrees 18 Julie 2013
Nederigheid teenoor vrees
Xanthe Galanis
“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matteus 5:14-16
Nederigheid is hierdie week die onderliggende tema. Vanoggend dink baie van ons hier in Suid-Afrika en in die res van die wêreld aan oudpresident Nelson Mandela. Baie woorde is gebruik om Nelson Mandela te beskryf en nederigheid is die een wat dikwels genoem word.
Op die internet merk ek dat daar genoem word dat met sy destydse intreerede Mandela uit "Our deepest fear" 'n gedig van Marianne Williamson aangehaal het. Dit is, sover ek weet, nie waar nie, maar 'n deel uit die gedig verdien om hier aangehaal te word want dit vertel dat vals nederigheid kan net so seermaak as vals hoogmoed:
Our deepest fear is not that we are inadequate.
Our deepest fear is that we are powerful beyond measure.
It is our light, not our darkness
That most frightens us.
We ask ourselves
Who am I to be brilliant, gorgeous, talented, fabulous?
Actually, who are you not to be?
You are a child of God.
Your playing small
Does not serve the world.
There's nothing enlightened about shrinking
So that other people won't feel insecure around you.
We are all meant to shine,
As children do.
We were born to make manifest
The glory of God that is within us.
Ons is geneig om aan nederigheid te dink as iets wat verlang dat jy jouself heeltemal op die agtergrond plaas, iets wat jou nie toelaat om jouself na waarde te ag nie, iets wat verlang dat jy altyd eers gevra moet word voordat jy jou gawes en talente aanbied. Ons dink dikwels dat wanneer iemand selfversekerd is, hy nie nederig is nie.
Ons gawes en talente is aan ons gegee om iemand anders mee te kan help net soos hulle gawes en talente bedoel is om ons mee te kan help. Om jou lamp onder 'n emmer te plaas help niemand nie – nie ander nie, nie jouself nie en definitief ook nie vir God nie. Dit is presies wat Jesus ons in vandag se vers leer.
Jesus se volgelinge is die lig vir die wêreld. Ons is nie in Christus gebore om die evangelieboodskap binnensmonds te mompel nie. Jesus het nie aan die kruis gesterf sodat ons ons veranderde lewens kan wegsteek nie. Jesus het nie opgestaan sodat ons ondergronds moet gaan nie. Moenie bang wees dat jy hoogmoedig sal oorkom nie. Wanneer jy iets waarlik tot eer van die Here doen, sal niemand dink dit kom uit jouself nie.
Gebed: Hemelse Vader, leer ons die verskil tussen vals nederigheid en vrees. Help ons om nie bang te wees nie, maar om ons lig te laat skyn. Ons vra dit in u Naam. Amen