Die enigste - 5 Augustus 2013
Dirk Taljaard
Skriflesing
Eksodus 20:3
Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Daar behoort geen twyfel te bestaan oor Wie ‘My’ hier is nie. Dis die Here wat sy volk uit Egipte vrygemaak het. Op ʼn ander plek (Deuteronomium 6:4 en 5) staan dit só duidelik: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Omdat Hy die enigste is, kan daar eintlik nie naas Hom nog iets of iemand wees nie…. Niks en niemand mag ooit belangriker wees of word as Hy nie.
Selfs die mees primitiewe mens het een of ander godsbegrip en –behoefte. Iemand wat groter as hy of sy is en wat in beheer van alles is. Daarom lees ons baie maal in die Ou Testament van afgode, hulle name, hulle tempels, waarvan hulle gemaak is….. Hulle is mens-gemaak of vasgevang in een of ander vorm waaruit hulle nie kan ontsnap nie, en wat gemanipuleer kan word.
Die God van die verbond is egter uniek: Hy word nie in ʼn menslike vorm ingeforseer nie. Hy is nie afhanklik van die mens nie, terwyl die mens uit sy hand lewe; Hy staan buite ons ruimte en tyd, en tog plaas Hy ons op ʼn spesifieke plek binne ʼn gegewe tydperk van die wêreldgeskiedenis; Hy is heilig en verdra nie die sonde nie, en tog het hy sondaars lief; die heelal behoort aan Hom en tog herinner Hy ons telkens dat ons in hierdie wêreld is, maar nie van die wêreld nie.
Dis interessant dat ons nie oor God kan dink of praat of skryf, sonder om menslike beelde te gebruik nie. Die slim mense verwys daarna as antropomorfisme. Daarom praat ons oor sy hande, voete, mond, ens. Nie dat ons woordeskat ooit in staat sal wees om Hom volledig te ‘beskryf’ nie. Hy is te groot daarvoor. Maar ons kan iets van sy Vaderhart verwoord: Een wat omgee vir mense....
Ons behoort aan ʼn wonderlike God! Eer Hom vandag daarvoor.
Here, help ons om U vandag lief te hê soos U vra. Amen