Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Skepper of skepping? - 6 Augustus 2013

Dirk Taljaard

Skriflesing

Eksodus 20:3

Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Die eerste gebod gaan oor WIE aanbid behoort te word: net God. Alles en almal anders is (af)gode. En ʼn definisie van ʼn afgod is om in die plek van die Here iets te versin of iets te hê waarop jy jou vertroue plaas.

Miskien kan ons ons so maklik verontskuldig deur te sê dat ons nie allerhande vorms, soos die ou afgode, het nie. Maar dink bietjie mooi: watter ‘beeld’ van God het jy in jou kop? Hoe stel jy Hom vir jou voor? Want baie van ons dink in prentjies. Al hierdie idees perk Hom in. En soos ons Hom voorstel, so is Hy vir ons…. Omdat ons in menslike terme oor Hom dink, hanteer ons Hom ook so.

Soms is die Here vir ons soos ʼn spaarwiel. Jy weet Hy’s daar, maar jy dink net oor Hom wanneer jy in die nood is. Ander kere wil ons half ‘sy arm draai’ om te kry wat ons graag wil hê. Dan probeer ons Hom manipuleer om ons sin te kry. Ander kere worstel ons onsself moeg om probleme op te los, terwyl ons die Here eenkant toe skuif.

Sekere dinge kan so belangrik raak, dat al ons tyd, energie en geld daarheen gekanaliseer word. Die skepping word dan belangriker as die Skepper! Dink bietjie: hoeveel tyd spandeer jy aan jou werk, jou gesin, jou ontspanning in vergelyking met jou eie stiltetyd? Sit jy elke dag ʼn tydjie opsy om sorg te dra vir jou eie en jou gesin se geestelike groei en ontwikkeling? Wanneer jy ʼn belangrike besluit moet neem, wat is die beginsels wat die swaarste weeg: die praktyk van jou alledaagse bestaan, of die wil van die Here?

Indien ons Hom erken en bely as Here, dan raak ons eie behoeftes en wil en wense ondergeskik aan syne. Dan soek en vra ons na sy wil. Dan word dit ons passie, ongeag die konsekwensies. Dan maak die opinies van mense nie regtig saak nie. En dan wil ons mense met ons saamneem op hierdie reis.

Here, ek bely U as die enigste, ware God. Amen.

Previous article: ..en ek dien geen afgod nie - 7 Augustus 2013 Prev Next article: Die enigste - 5 Augustus 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.