Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

..en ek dien geen afgod nie - 7 Augustus 2013

Dirk Taljaard

Skriflesing

Eksodus 20:4-5

Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.

As die enigste Here, verwag Hy dat ons Hom op ʼn sekere manier moet aanbid. Dis waaroor die tweede gebod gaan. Omdat meeste mense nie goed is met abstrak dink nie, is die neiging daar om hulle god konkreet te wil voorstel, sodat hulle met hom kan kontak maak waar en hoe en wanneer hulle wil. Dis waarvoor beelde gemaak is. Selfs in Israel se geskiedenis het dit gebeur. Dink maar aan die goue kalf.

Maar die Here neem altyd inisiatief. Hy gee altyd die eerste tree na die mens toe; nie andersom nie. Hy voorsien in mense se behoeftes; nie die omgekeerde nie. Sy alomteenwoordigheid maak dit oorbodig om Hom te probeer vaspen op een plek. Wanneer dit gebeur het, het die volk God gelykgestel aan die ander afgode. En dit mag nie! Meer nog, hulle het hulleself gelykgestel aan die ander volkere. Hulle, die verbondseiendom van die enigste Here, het dan geen getuienis uitgestraal na buite nie. Hulle het die uniekheid van die Here verloën.

En vandag, baie jare later? Ons rig standbeelde op, maar hopelik nie om daarvoor te buig nie. Ons glo onbewustelik dat die Here tussen die mure van die kerk gevind word. Daarom lyk ons Sondaglewe baie keer totaal anders die res van die week. Vir baie is die Here die uitsluitlike eiendom van ʼn sekere kerkgenootskap, of ʼn volk, en ons luister net wanneer sekere mense preek....

Tragies dat ons as christene baie maal die oorsaak is van verwarring en verdeeldheid omdat ons nie uit een mond kan praat nie. Ons wat dieselfde Here dien, ‘beeld’ Hom binne ons kerklike tradisie en teologie soms so uit dat buitestanders Hom glad nie sal herken nie. Ons voorstelling, of ‘Godsbeeld’ is vir ons so werklik, dat selfs die Here nie buite dié raamwerk moet beweeg nie, anders veroorsaak dit by ons geloofskrisse!

Here, dankie dat U groter is as enige voorstelling wat ek van U het! Amen.

Previous article: Lojaliteit ’n prioriteit - 8 Augustus 2013 Prev Next article: Skepper of skepping? - 6 Augustus 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.