Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Raak een minuut stil - 25 Oktober 2013

Nina Smit

Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn!

~ Sagaria 2:13

In die teks uit Sagaria lyk dit byna of ’n mens éérs voor God stil moet word voordat Hy uit sy heilige woning te voorskyn sal kom. Hoe stiller ’n mens word, hoe beter kan jy God se teenwoordigheid om jou voel, hoe duideliker praat sy stem met jou. In die Finesse-artikel (April 2012) getuig die sanger Bobby van Jaarsveld dat hy God beter verstaan vandat hy geleer het om elke dag een minuut stil te word.

Begin jou eie stiltetyd met een minuut stilte, ’n minuut waarin jy jouself heeltemal afsluit van alles om jou, waar jy doodstil sit, doodstil bly en jouself geheel en al vir God oopstel. Later sal dit maklik wees om die minuut te rek sodat jy ’n hele rukkie in stilte na God sal kan luister.

Sê vir God: “Here, ek is stil, ek luister.” Jy kan hierdie stilblyoefening ook gedurende die dag doen: Wanneer jy by ’n verkeerslig, in ’n winkeltou of in die dokter se spreekkamer moet wag, of saans voordat jy aan die slaap raak. “Gee ’n bietjie die leisels vir Hom,” skryf Joubert in Finesse (April 2012). “Moenie ongeduldig raak as jy dit nie die eerste keer regkry nie. Dit gaan tyd en oefening neem, maar hoe meer jy dit doen, hoe makliker gaan dit word.”

Here Jesus, leer my die waarde van stilte. Ek wil nou doodstil bly, totdat ek u teenwoordigheid by my kan ondervind; die klank van u stem in die stilte met my kan hoor praat. Amen

Previous article: Met dankbaarheid vervul - 28 Oktober 2013 Prev Next article: Hoor God se stem - 24 Oktober 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.