Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Met dankbaarheid vervul - 28 Oktober 2013

Nina Smit

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul. ~ Kolossense 2:6-7

Die vierde vereiste wat Paulus in hierdie teks vir die gemeente in Kolosse beklemtoon, is dat hulle met dankbaarheid vervul moet wees. “Die Nuwe Testament sê nie dat ons vir mekaar dankie moet sê nie. Alleen God word gedank,” skryf Die Bybellennium (p 1902). In die tyd toe Jesus op aarde was, was mense van mekaar afhanklik. Jy het jou gesinslede of vriende vandag gehelp en môre het hulle jou weer gehelp. Dankies is dan eintlik oorbodig. Die kinders van God se gesin hoef ook nie mekaar te bedank nie. Al die erkenning en dank vir wat ons is en kon regkry, kom God toe. Ons behoort onsself voor te neem om bewustelik dankbaar te wees vir alles wat ons van God ontvang.

Neem jy al God se gawes as vanselfsprekend aan? God vra van jou om met dankbaarheid teenoor Hom vervul te wees. “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Jesus Christus van julle verwag” (1 Tessalonisense 5:18). Jy behoort dus ook dankbaar te wees oor daardie dinge wat jy liefs anders sou wou hê. Vra dat God dit vir jou moontlik sal maak.

Hemelse Vader, vergewe my dat ek dikwels nog so ondankbaar lewe en die gawes wat ek van U ontvang as my reg beskou. Vul my nou met die dankbaarheid wat van U kom. Amen

Previous article: Volg Jesus se voorbeeld - 29 Oktober 2013 Prev Next article: Raak een minuut stil - 25 Oktober 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.