Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wees heilig - 30 Oktober 2013

Nina Smit

Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God. Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My.

~ Levitikus 20:7-8

God het Israel uit al die volke gekies as sy volk, en ’n verbond met hulle gesluit. Maar Hy dring daarop aan dat hulle heilig sal wees soos Hy en sy gebooie sal gehoorsaam. ’n Heilige lewe beteken om God se voorskrifte te ken en daarvolgens te lewe. God gee vir ons daardie voorskrifte in sy woord. Wanneer laas het jy die Tien Gebooie werklik aandagtig gelees en nagedink oor wat elke gebod van jou vra? Kry jy dit al reg om God en jou naaste innig en onvoorwaardelik lief te hê?

Arnold Mol skryf in Becoming What You Are (p 68) dat hy jare tevergeefs gesukkel het om heilig te lewe. Eers toe hy ontdek het dat dit nie hý is wat vir sy eie geestelike groei verantwoordelik is nie, maar wel Gód, het sy lewe ingrypend ten goede verander. God is dus verantwoordelik vir wat jy ís, maar jyself is steeds verantwoordelik vir wat jy dóén, vir die manier waarop jy lewe, skryf Mol.

Dit is Gód wat jou silwerskoon voor Jesus laat staan, dit is Hý wat jou toerus en bekwaam maak om sy wil te doen. Hou gerus op om sélf te probeer. “Let go and let God,” soos die Engelse gesegde lui. Jy sal dit net regkry om heilig te leef as Jesus in volkome beheer van jou lewe is.

Hemelse Vader, ek wil graag heilig wees soos U heilig is. Maak dit asseblief vir my moontlik deur die krag van u Gees. Amen

Previous article: Moenie twyfel nie - 31 Oktober 2013 Prev Next article: Volg Jesus se voorbeeld - 29 Oktober 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.