Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Volg Jesus se voorbeeld - 29 Oktober 2013

Nina Smit

Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde. ~ Efesiërs 5:1-2

Wanneer ons dag vir dag probeer om te leef soos die Bybel van ons vra, raak ons soms moedeloos omdat ons dit maar net nie kan regkry nie. Ons het onsself so lief dat dit moeilik vir ons is om God bo alles en ander mense soos onsself lief te hê. Tog kan ’n mens dit regkry as jy die geheim van Jesus se Bergrede ken: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” (Matteus 5:3).

Eers wanneer jy in volkome afhanklikheid van en gehoorsaamheid aan God leef en dag vir dag jou eie onvermoë om lief te hê besef (en dit bely!), sal jy daarin kan slaag om te leef volgens Jesus se riglyne. Net deur die krag van die Heilige Gees sal jy kan groei tot ’n sterker en gehoorsamer kind van God.

“Die vraag is nie of ons heelpad slaag nie, maar of ons heelpad op die regte pad bly,” skryf Johan Smit in Jesus aan die woord (p 333). Al faal jy dikwels wanneer jy probeer om soos Jesus lief te hê, behoort jy aan te hou om te probeer. Indien jy gewillig is, is daar vir jou ’n wonderlike belofte in Psalm 37:23-24 opgeteken: “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.”

Hemelse Vader, ek wil graag soos Jesus liefhê: Vir U bo alles en ander mense soos myself. Maar, Here, ek faal so dikwels. Dankie dat U my elke keer weer ophelp en ondersteun. Amen

Previous article: Wees heilig - 30 Oktober 2013 Prev Next article: Met dankbaarheid vervul - 28 Oktober 2013 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.