Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

BREEK UIT EN LÉÉF... WANT GOD IS ORAL - 3 Februarie 2014

HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT... EN LÉÉF!(As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

In die Britse Museum is daar ’n landkaart wat uit die sestiende eeu dateer. Oral op die kaart is daar, in ooreenstemming met die opvattings van die tye, sketse en byskrifte aangebring as waarskuwings vir voornemende reisigers. Op party plekke staan geskryf: “Hier bly reuse.” Op ander: “Pasop vir die drake.” En nog ander: “Hier woon vuurspuwende skerpioene.”

 

Hoewel die waarskuwings meeste reisigers afskrik, het dit ’n ander effek op die wetenskaplike, sir John Franklin gehad. Nadat hy die kaart vir ’n geruime tyd lank bestudeer het, het hy elk van die waarskuwings doodgetrek en regoor die kaart geskryf: “God is oral.”

 

Nie een van ons is gevrywaar dat gerigte van “drake, reuse en vuurspuwende skerpioene” (in die vorm van finansiële druk, siekte of uitdagings by die huis of werkplek) op pad mag kruis nie. Tog, wat is jou reaksie wanneer dit kom? Laat jy toe dat vrees jou lamlê en hoop vir ’n beter toekoms uit jou wese gepars word? Of herinner jy jouself, soos Sir John Franklin, dat God, Hy wat nooit verander nie, jou toekoms ken en reeds die antwoorde op elke uitdaging het? 

 

In Spreuke 15:3 skryf die Spreukedigter: “Die Here sien oral...” In Lukas 10:19 sê Jesus: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” En in Johannes 10:10 sê Jesus: “Die dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed.”

 

Wat is jou uitdaging vandag? Voel dit asof dit besig is om die oorhand in jou lewe te kry? Daar is hoop. God is oral. Jesus het aan ons die outoriteit gegee om oor elke “reus, skerpioen of draak” te heers en te danke aan Hom kan ons losbreek en ’n lewe in oorvloed begin leef. Kom ons plaas ons oë in nuut op Hom met die wete dat Hy ons deur elke uitdaging sal dra. Sterkte!

 

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U in beheer van my lewe is. Help my om nie oorweldig te word deur enige krisis wat my pad mag kruis nie, maar om met U outoriteit daaroor te heers. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Previous article: BREEK UIT . . . EN VERTROU GOD VIR SELFS GROTER DINGE - 4 Februarie 2014 Prev Next article: Paradysblomme - 31 Januarie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.