BREEK UIT . . . EN VERTROU GOD VIR SELFS GROTER DINGE - 4 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT... EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van te mas in die huidige reeks, e-pos my na
DAG 2: BREEK UIT . . . EN VERTROU GOD VIR SELFS GROTER DINGE
Deur Benescke Janse van Rensburg
Dit het begin met ’n SMS van ’n desperate ouma, Aletta van Eersterivier na die ateljee tydens my radioprogram op Radio Tygerberg 104FM. Sy het vertel dat haar 9-jarige kleinseun, Cole hartgebroke is nadat sy fiets, waarvoor hy baie lank gewag het, die aand vantevore uit hul agterplaas gesteel is. Hulle is behoeftig en kan nie die fiets vervang nie. Sy het vertel dat Cole gehuil het “asof iemand in die huisgesin gesterf het”.
In die hoop dat iemand êrens in die Kaapse Skiereiland dalk ’n tweedehandse fiets as donasie sou gee, het ek die SMS met die luisteraars gedeel. Tot my verbasing het ’n luisteraar skaars twee minute later laat weet dat hy vir Cole ’n nuwe fiets wou koop.
Ons het gereël dat ouma Aletta, Cole en die weldoener, Ryno na die ateljee kom. Wat ouma Aletta en Cole nie geweet het nie, is dat die nuwe fiets, wat maklik vyf keer die waarde is van Cole sin wat gesteel is, in ’n ander ateljee weggesteek was. ’n Kollega van my het op my teken gewag om dit by die ateljee in te stoot.
Toe dié oomblik aanbreek was die 9-jarige Cole en sy ouma beide in trane. Geeneen van hulle kon glo wat hulle sien nie. Eers later het ouma Aletta vertel dat hierdie nuwe fiets die presiese een is waaroor Cole en sy maats al vir ’n geruime tyd lank droom. Ouma Aletta het egter net altyd vir Cole gesê: “Onthou, net die Here kan so een vir jou gee.” En God het.
Dié storie het my opnuut laat besef dat God werklik ons elkeen se diepste hartsbegeertes ken. In Psalm 37:4 lees ons immers: “Vind jou vreugde in die Here; en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Ook in Efesiërs 3:20-21: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons kan bid of dink, aan Hom kom die eer toe.”
Sit jy dalk in ’n soortgelyke situasie waar jy verlies of ’n teleurstelling moet verwerk? Dalk het ’n ernstige verhouding op die rotse geëindig, ’n besigheidstransaksie deur die mat geval of is jy nie vir jou droomwerk aangestel nie. In plaas daarvan om ontsteld te wees en God te blameer, begin eerder om Hom te dank. Hy ken jou toekoms en is heel moontlik besig om jou van ’n verkeerde keuse of besluit te beskerm of dalk voor te berei vir ’n veel groter deurbraak in die toekoms.
Kan jy jouself indink watter glimlag daar op God se gesig was daardie oomblik toe die fiets (tot die 9-jarige Cole se verbasing) by die ateljee ingestoot word? ’n Klein seuntjie se droom het waargeword. God wil en kan jou ook verras. Waarvoor vertrou jy Hom in hierdie jaar? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my toekoms ken en dat ek in U kan berus. Help my asseblief om nie mismoedig te voel as dinge nie uitwerk soos wat ek gehoop het nie, maar om eerder te vertrou dat U steeds in beheer is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Kyk na ’n foto van Cole, Aletta en Ryno op www.benescke.co.za en ook op die fbook bladsy, Stories van Hoop.