BREEK UIT EN LÉÉF... WANT GOD IS IN BEHEER - 7 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT... EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Dag 5: BREEK UIT EN LÉÉF... WANT GOD IS IN BEHEER
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Verskeie lesers het die afgelope week getuig oor hoe hulle beleef het dat God slegte situasies in hul lewens ten goede laat meewerk het. Ek deel vandag nog só ’n getuienis wat jou hopelik sal inspireer.]
Die bakkie was propvol wors en broodjies gelaai toe Ockie en ’n span eerstejaars by die Ellisparkstadion in Johannesburg opdaag. Dit was die Curriebekerfinaal en sy plan was om worsbroodjies te verkoop om vir hom en sy verloofde, Idene se wittebrood te betaal.
Met 60,000 toeskouers wat die wedstryd sou bywoon, het hulle gedink dat hulle ten minste 10,000 broodjies sou verkoop. Dít is hoeveel voorraad brood en wors hulle by hulle gehad het. Om tyd op die dag van die wedstryd te spaar, het hulle besluit om die wors vooraf halfgaar te maak.
Alles was in plek. Al wat nou gekort het, was die toeskouers wat in rye moes staan om die broodjies te koop. Toe kom die skok. Teen 16:00 daardie Saterdagmiddag met die aanvang van die wedstryd, het hulle nog net 20 worsbroodjies verkoop (die verwagting was ten minste 5000 teen daardie tyd). Met rustyd het die nie veel beter gegaan nie en na afloop van die wedstryd het die stadion vinnig leeggeloop wat hulle met ’n bakkievrag kos en niemand om dit te koop gelaat het. Geskok en met totale ongeloof het Ockie en sy span na mekaar gekyk. Geeneen van hulle kon glo wat hulle getref het nie.
Dit was stil in die motor toe Ockie en Idene van die stadion af vertrek. Wat moes hulle met die berg kos maak? Hulle kon die wors nie vries en weer verkoop nie, aangesien dit reeds halfgaar was.
Ná ’n gesprek met hulle predikant om voorstelle te kry van plekke wat die kos sou benodig, het hulle besluit om POPUP, ’n organisasie in Pretoria wat Sondae na hawelose mense uitreik, te bel. Die bestuurder daar was amper in trane toe hy die oproep kry. Eers toe Ockie en Idene die kos by POPUP aflaai, het hulle die storie gehoor. Die borg wat daardie volgende dag vir POPUP sou kos voorsien, het die middag onttrek. Hulle het met hande in die hare gesit en as span besluit om na God te gaan en Hom vir ’n deurbraak te vra. Ná die gebedsessie het hulle die oproep ontvang van die bakkievrag kos wat op pad was. God het voorsien.
Ockie en Idene het steeds die wittebrood van hul drome gehad en as hulle terugdink aan Ellispark besef hulle vandag dat die worsbroodjies eintlik nooit hulle sin was nie. Dit was God sin. Dit is met dankbaarheid dat hulle besef dat God hulle daardie dag gekies het om ’n skakel in sy groter plan te wees.
In Psalm 24:1 lees ons: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here. . .” Ook in Jesaja 55:8-9 sê God self: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” En in Filippense 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”
Het jy ’n behoefte vandag of sukkel jy om sin te maak uit ’n ongemaklike situasie in jou lewe? Onthou, alles in die wêreld behoort aan God. Hy is ons Voorsiener en kan enigiets gebruik om sy doel te bereik. Die vraag is: Is jy ’n beskikbare instrument as Hy dalk vandag deur jou lewe wil werk? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U alles altyd ten goede kan laat meewerk vir diegene wat U liefhet. Help my om gehoorsaam te wees as U my as u instrument benodig. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Sien ’n foto van Ockie en Idene op www.benescke.co.za of op die Fbook bladsy, Stories van hoop.