BREEK UIT EN WAAG OM TE VERGEWE - 6 Februarie 2014
HUIDIGE TEMA:TEMA: BREEK UIT... EN LÉÉF!(Vir terugvoer of voorstelle van temas in die huidige reeks, e-pos my na
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Priester gesels op ’n dag met ’n vrou wat beweer dat God persoonlik aan haar verskyn. Hoogs skepties oor hierdie aanspraak, besluit hy om haar te toets. “Mevrou,” sê hy, “as God weer aan jou verskyn, vra Hom om jou te vertel wat my geheime sonde, wat net Hy van weet, is.” Die vrou het ingestem om dit te doen. Die Priester het gedink dat hy haar op dié manier goed sou uitvang as sy ’n leuen vertel.
’n Maand later is die Priester terug na die vrou. “So, Mevrou,” het hy smalend begin. “Het jy toe vir God gevra wat my geheime sonde is?”’ Tot sy verbasing antwoord sy: “Ek het.” Geskok vra die priester versigtig: “En wat het Hy geantwoord?” Tot sy verrassing kom haar antwoord: “God het vir my gevra: ‘Watter sonde?’ En toe gesê: ‘Sê vir die Priester ’n sonde wat Ek vergewe het, vergeet Ek ook.’”
In Psalm 103:12 lees ons: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Ook in Jesaja 1:18 staan geskryf: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” En in Jesaja 44:22 sê God self: “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.”
God vergewe en vergeet van ons oortredinge wanneer ons waarlik berou het en daarvan wegdraai. Tog, doen jy dieselfde wanneer jou medemens teen jou oortree – en waarlik berou oor sy of haar dade het – of koester jy ’n wrok deur jou oortreder deur hom of haar konstant aan die oortreding te herinner?
Een van die vyand se doelwitte is om te verseker dat ons so lank moontlik aan ’n onvergewensgesindheid klou. Nie net omdat dit ons vreugde en vrede in ons lewens steel nie; ook omdat dit verhoed dat ons ’n oorvloedige lewe lei aangesien ’n onvergewensgesindheid mettertyd in bitterheid omsit en bitterheid ons stadig doodmaak. Hoe doen die vyand dit? Hy laat jou glo dat jy swak word as jy vergewe omdat jy jou reg om kwaad met kwaad te vergeld prysgee. Die waarheid is egter dat solank jy ’n wrok koester, jy eintlik daaronder lei.
Wie in jou lewe moet jy vergewe? Waarvoor? Kies vandag om met die hulp van die Heilige Gees wat in ons werk, uit die kloue van die vyand te breek en te vergewe. Jy mag verbaas staan oor hoe God jou vrymaak en hoe jy (dalk vir die eerste keer) waarlik ’n lewe en ’n lewe in oorvloed smaak. Gaan jy dit waag? Sterkte.
Vader God, ek kom na U in die Naam van Jesus Christus. Ek bely dat ek ’n onvergewensgesindheid koester teenoor (noem die persoon se naam) oor (noem waaroor). Ek vra U om my deur u Heilige Gees te versterk om die persoon te vergewe – en ook te kom op ’n punt waar ek vergeet wat aan my gedoen is. Help my om ’n lewe in oorvloed te beleef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.