GELOOF EN DANKBAARHEID SOOS ’n KIND - 6 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ek deel graag ’n getuienis van ’n kollega van my wat ons herinner aan die krag van geloof soos ’n kind:
Vir die eerste maand nadat Luané en haar gesin van Bellville na Somerset-Wes verhuis het, moes haar 3-jarige seuntjie, Mikal steeds daagliks saam met haar na sy ou skool in Bellville ry totdat hy plek in ’n nuwe skool kon kry. Sy het geweet dat sy hom op ’n manier op die pad sou moes besig hou.
Binne die eerste week het Mikal ’n absolute liefde vir vragmotors op die pad ontwikkel. Die speletjie “Raai wat is in die vragmotor” het ontstaan waartydens hulle telkens geraai het wat in die trok vervoer word. Dié raaiskote het gewissel van ’n trok vol hansworse tot ’n trok vol hondjies wat natuurlik gesorg het vir lekker lag. Dit is egter toe die groot Spar trok een oggend verby hulle ry dat klein Mikal na sy asem snak met die woorde: “Mamma, dis die mooiste trok wat ek nog ooit gesien het!” Van daardie dag af het hulle speletjie verander na ’n soektog soggens en smiddae op die pad na ’n Spar-trok. Sou hulle een raaksien was daar ’n groot gejuig.
In ’n stadium het hulle vir twee agtermekaar dae geen Spar-trok op die pad gesien het. Dit was baie sleg vir Mikal. Op die derde oggend het hy met die intrapslag in die motor gevra of hulle kan bid. Hierna het hy sommer weggeval: “Asseblief, Liewe Jesus, laat ek hom tog vandag sien.” Luané het dadelik geweet dat hy na die Spar-trok verwys. Na hierdie gebed het Mikal rustig teruggesit en in geloof die pad begin dophou.
Heelpad was daar egter niks nie. Eers by die laaste draai voordat hulle by Mikal se kleuterskool sou stop het hy meteens hard uitgeroep: “Kyk daar!” Reg voor hulle in die pad het ’n Spar-trok geparkeer gestaan terwyl die mans besig was om goedere af te laai. Luané het dadelik gestop sodat Mikal langs die trok vir ’n foto kon gaan staan. Jesus het nie net vir die trok gesorg het nie, maar dit so bestem dat hulle ’n foto by hierdie trok kon neem.
Luané het die foto en storie op Facebook gelaai. Groot was haar verbasing egter toe ’n vriendin wat dit raakgelees het, haar bel met die nuus dat sy vir Mikal sy eie klein speelgoed Spar-trok gekoop het. Mikal het dit met blink oë en ’n breë glimlag ontvang met die woorde: “Mamma, Liewe Jesus is só goed vir my.” Hierna het Luané ’n oproep van ’n Spar werknemer gekry wat Mikal na Spar se verspreidingsentrum genooi het. Weer het klein Mikal daar na sy asem gesnak toe hy twintig van hierdie Spar-trokke langs mekaar geparkeer sien staan. Hy kon sy geluk nie glo toe hy selfs binne-in een van hulle kon klim en die toeter druk nie. Langs die trok moes Luané haar trane van dankbaarheid afvee by die besef dat God hierdie kind van haar se geloof raakgesien het – geloof so groot soos ’n vragmotor.
God wil hê dat ons soos kinders moet glo. In Markus 10:13-15 sê Jesus immers: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.”
Kan jy jouself indink watter glimlag op God se gesig verskyn het toe Luané en Mikal om die draai kom en die trok voor hulle in die pad sien staan? Ons kan ook met geloof soos ’n kind ons harte voor God uitstort vir wat ons ook al van Hom benodig. Kom ons doen dit voordat ons soos Mikal rustig terugsit en wag dat God werk. Hy mag ons dalk ook kom verras met ’n “vragmotor” in ons lewens op die oomblik wat ons dit die minste verwag. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my hart sien. Help my om soos Mikal ook geloof soos ’n kind te hê in elke situasie wat ek in die gesig mag staar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na ’n foto van Mikal hier: http://benescke.co.za/blog/2014/05/05/dag-3-geloof-en-dankbaarheid-soos-n-kind/
- Lééf weer dankbaar: Waarvoor in jou lewe is jy dankbaar? Het jy dalk onlangs ’n deurbraak beleef? Of ’n antwoord op jou gebede? Deel gerus jou gedagtes met ons by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.