Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

DIE GROOTSTE VYAND VIR DANKBAARHEID? - 5 Mei 2014

HUIDIGE TEMA: Lééf weer dankbaar (Waarvoor in jou lewe is jy dankbaar? Het jy dalk onlangs ’n deurbraak beleef? Of ’n antwoord op jou gebede? Deel gerus jou gedagtes met ons by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

Deur Benescke Janse van Rensburg

Het jy al twee boksers in ’n kruit dopgehou tydens ’n boksgeveg? Hulle trippel rondom mekaar en sodra een ’n goeie vuishou inkry, steier die opponent terug in ’n poging om sy balans te behou. In ons gedagtewêreld is daar ook daagliks ’n boksgeveg aan die gang. Een bokser se naam is Dankbaarheid, die ander Onvergenoegdheid.

Onvergenoegdheid kry die oorhand sodra ons in die strik trap om onsself met ander te vergelyk en ontevrede te voel met wat ons het. Só begin ons ’n groter huis, ’n meer spoggerige motor, ’n meer romantiese man, ’n maerder postuur, ’n mooier vrou of ’n beter werksgeleentheid begeer. Hoewel daar niks verkeerd is om gesonde doelwitte te stel vir dinge wat jy graag wil bekom nie, bly die vraag: Is jy tevrede met wat jy tans het en waar jy in jou lewe is? Indien nie, is die kanse goed dat jy ook nie gaan wees wanneer jy wel daardie dinge bekom wat jy graag wil hê nie.

Dankbaarheid aan die ander kant kry ’n vuishou in wanneer ons doelbewus dankbaar is vir wat en wie ons wel in ons lewens het – en ook vir God dankie sê daarvoor.

In 1 Petrus 5:8 lees ons: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” Die vyand doen dit deur gedagtes in ons te plaas om onsself met ander te vergelyk omdat hy weet dat as ons afsteek ons ontevrede kan begin raak. Juis hierom lees ons in Romeine 12:2: “Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Een van die beste maniere vir Dankbaarheid om terug te veg wanneer Onvergenoegdheid ’n vuishou ingekry het, is om bewus te wees van wat in jou gedagtes aan die gang is. Sodra jy agterkom dat jy besig is om jouself met ander te vergelyk, kan jy die gedagtes stopsit en doelbewus dink aan iets in daardie area waarvoor jy wel dankbaar kan wees. Byvoorbeeld, jou vriendin vertel jou van ’n romantiese uitstappie waarop haar man haar geneem het. Jy hou ook van uitstappies, maar jou man is nie romanties nie. In stede daarvan om hom te verwyt kan jy jouself herinner daaraan dat hy ten minste lojaal aan jou is en jou met die kinders help. Of jy hou dalk niks van jou huidige werk wat jy doen nie. Onthou egter dat daar heelwat werkloses is wat wat sou gee vir ’n werksgeleentheid – ook joune.

Wie loop tans voor op die telbord in jou gedagtewêreld - Dankbaarheid of Onvergenoegdheid? Kom ons herken die stryd en beveg dit reg sodat ons op die einde kan verseker dat Dankbaarheid onder ’n luide applous met hande in die lug sal staan omdat hy as die wenner uit die stryd tree! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir elke genadegawe wat ek uit U hand ontvang het. Ek is dankbaar vir (noem spesifiek in jou lewe waarvoor jy dankbaar is). Help my om my gedagtes te bewaak om nie onvergenoegd te raak deur myself met ander te vergelyk nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Waarvoor is jy dankbaar? Deel gerus jou gedagtes met ons by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Hier is waarvoor drie lesers dankbaar is:
  • Talana Westvig: “In die laaste 3 jaar het die Here my seun na Hom gelei. Hy het ook my man veilig na ons familie teruggebring en ons uit ’n put van bankrotskap en skaamte gelig na ’n plek van oorwinning. Ons is tans besig om ons eie huis te koop, ons beide het fantastiese werke en ons familie is weer bymekaar. Ek prys en dank God vir sy diepe genade en seëninge.”
  • Katrien Van der Merwe: “Ek is dankbaar dat Vader my van Februarie 2013 tot nou as instrument gebruik om die evangelie hier op die eiland Koh Phangang in Thailand te verkondig. Ek is dankbaar vir elke seëning uit sy hand.”
  • Henk du Plessis: “DankieHere vir die wonderlike reën wat die reënseisoen geval het en die hartseer en swaar van die droogte kom afwas het. Ek bid vir elke droogteplek waar daar nog reën so nodig is dieselfde genade toe. Dankie vir my gesondheid Here, dankie vir my gesin, huwelik, meisiekind en elke asemteug. Dankie dat ek aan U kan behoort!”
Previous article: GELOOF EN DANKBAARHEID SOOS ’n KIND - 6 Mei 2014 Prev Next article: IS JY DANKBAAR? - 2 Mei 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.