Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

’n Offer van dankbaarheid - 9 Mei 2014

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

In aanloop tot Paasfees wou ons Jesus se liefde prakties aan die mense in die Kaapse Skiereiland demonstreer. Met ons Projek Oase by Radio Tygerberg kon luisteraars gesinne in nood via ons SMS-lyn in die ateljee nomineer. Ons het vyf gesinne uit die SMS’e gekies wat ons vroegoggend tydens die oggendprogram met ’n geskenkbewys vir kos en klere by hulle huise gaan verras het.

Hier is ’n uittreksel uit een van die gekose SMS’e wat deur Simoné Solomons uit Blue Downs ingestuur is: “Ek is ’n matriekleerling en wil graag ons huisgesin nomineer. Ons gaan deur ’n moeilike tyd. Soms is daar niks om te eet nie. Tog bly my ma, Dianne geweldig positief. Sy is ook ’n vrywilliger by ’n skool in ons omgewing waar sy help kos maak vir die behoeftige kinders. Dit maak my hartseer om te sien hoe my ma met nat oë van die grond af opstaan nadat sy gebid het. My jongste broer vra gereeld wanneer die Here dan vir ons ’n deurbraak gaan gee. My ma se antwoord bly altyd dieselfde: ‘God se tyd is die regte tyd. Nog net ’n klein tydjie dan gaan Hy ons lot verander. . .’”

Ons het besluit om die Solomon gesin te gaan verras. Met ons aankoms by hulle huis in Blue Downs, was Dianne, Simoné se ma, duidelik verras. Nog voordat ons vir haar kon sê waarom ons daar was, het haar geloof en dankbaarheid my reeds getref. Hierdie vrou was dankbaar al het sy min.

Met die nuus van ’n geskenkbewys vir kos en klere, was daar trane. Dit was duidelik dat dit groot verligting sou bring. Deur haar trane het Dianne ons bedank, maar ook terselfdertyd ander mense in nood aangemoedig om aan te hou om op God te vertrou. Toe kom ons tweede verrassing: Simoné word as ’n wenner vir ons jaarlikse Matriekafskeidprojek aangewys. Met dié projek span ons saam met borge om aan drie behoeftige matrieks die matriekafskeid van hulle drome te gee. Weer was daar baie trane.

Wat ons nie geweet het nie, was dat Dianne die naweek vóór ons besoek by verskeie plekke vir ’n lening aansoek gedoen het. Sy wou die geld gebruik om vir Simoné ’n rok vir haar matriekafskeid te laat maak. Elke aansoek is egter afgekeur. Terug by die huis het sy die badkamerdeur agter haar gesluit en voor God gehuil. Sy het met haar rug teen die muur gestaan en nie geweet watter kant toe nie. Nadat sy die badkamer verlaat het, het Simoné met die volgende woorde na haar gekom: “Mamma, dalk wil God nie hê ons moet ’n lening aangaan nie. Dalk gaan Hy eensklaps vir ons voorsien.” Ons het dit nie geweet nie, maar God het haar geloof raakgesien en dit geëer.

In Kolossense 4:2 lees ons: “Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar.” Ook in Psalm 50:14 staan geskryf: “Offer dank aan God . . .” (1953-hersiening)

Wanneer bring ’n mens ’n offer? Wanneer dit seermaak. Wanneer bring ’n mens ’n offer van dank aan God? Wanneer ons Hom loof en prys te midde van ’n woestyntyd terwyl dit baie moeilik is om dit te doen. Só herinner ons, onsself aan God se vermoë om vir ons ’n deurbraak te bewerkstellig. Die Solomons het hierdie toets deurstaan en God het hulle geloof geëer.

Vir watter deurbraak wag jy? Kom ons volhard in gebed en bly dankbaar. God mag dalk net soos vir die Solomons eensklaps jou situasie kom verander. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U beloof om my nooit te verlaat of in die steek te laat nie. Help my om soos die Solomons aan te hou om ’n offer van dankbaarheid te bring – selfs in my woestyntyd. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van die Solomons gesin:
  • Luister na die oudio van die aankondiging: http://benescke.co.za/potgooie/#page=&order=
Previous article: Dankbaar vir “toe deure” - 12 Mei 2014 Prev Next article: BYVOORBAAT DANK. . . - 8 Mei 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.