Dankbaar vir “toe deure” - 12 Mei 2014
Tema: Lééf weer Dankbaar
Deur Benescke Janse van Rensburg
Was jy al ooit in jou lewe dankbaar vir ’n toe deur? Natuurlik is geen mens aanvanklik dankbaar as jy onsuksesvol in ’n belowende werksaansoek is, pyn beleef weens ’n verhouding wat op die rotse, eerder as in ’n huwelik eindig of wanneer ’n koopkontrak vir wat jy gedink het julle droomhuis sou wees, deur die mat val nie. Tog, dank of blameer jy God vir toe deure in jou lewe?
Oor die afgelope paar dae het verskeie Vers-’n-Dag lesers van deurbrake, voorsiening of vertroosting uit God se hand getuig. Dit bly interessant om op te let hoeveel keer ’n “toe deur” later ’n geleentheid geword het waartydens lesers God se teenwoordigheid, voorsiening en krag kon beleef. God ken ons elkeen se toekoms. Juis hierom kan ons dus met geruste harte weet dat sou ons ’n toe deur beleef, Hy heel moontlik besig is om óf ons karakter te vorm óf om ons van verkeerde keuses te beskerm omdat Hy iets veel beter vir ons in die toekoms beplan.
In Jeremia 29:11 sê God immers: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” In Romeine 8:28 staan geskryf: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” En in Jesaja 22 roep God vir Eljakim tot diens en sê dan die volgende oor Hom: “Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat Hy oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hy toesluit sal niemand oopsluit nie.” Omdat hierdie outoriteit aan God behoort kon hy Eljakim toelaat om deure oop en toe te sluit.
Dalk moet ek jou weer vra: Dank of blameer jy God vir toe deure in jou lewe? Jy was dalk onsuksesvol in jou werksaansoek, maar maande later word jy in ’n veel beter posisie aangestel (waarvoor jy nie sou kwalifiseer as jy daardie aanvanklike werksgeleentheid gekry het nie). Jy beleef dalk pyn en verwerping na ’n gebroke verhouding, net om later met dankbaarheid daarop terug te kyk omdat jy daarna jou sielsgenoot ontmoet het met wie jy vandag getroud is. En die koopkontrak wat deur die mat geval het, was dalk die grootste beskerming en seën uit God se hand omdat julle vandag ’n veel groter en beter huis besit.
Kom ons begin doelbewus dankbaar raak vir die toe deure in ons lewens – al verstaan ons dit nie aanvanklik nie. Met verloop van weke, maande of jare mag ons dalk hierop terugkyk en God oneindig dank! Sterkte.
Vader God, ek loof en prys U dat U in beheer van my lewe en toekoms is. Help my om nie moedeloos te raak as ek ’n toe deur beleef nie, maar dit eerder as ’n teken te sien dat U my beskerm omdat U agter die skerms besig is om te werk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Waarvoor is jy dankbaar? Deel gerus jou gedagtes met ons by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . - Hier is waarvoor ’n paar van ons lesers dankbaar is: http://benescke.co.za/blog/2014/05/11/dag-6-addisioneelvers-n-dag-lesers-se-dankbaarheidsgetuienisse/