DANKBAAR DAT GOD VOORSIEN - 28 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
Dit was vroeg in Desember in 2011. Ek was steeds betrokke by die oggendskof op Radio Tygerberg en van ons kollegas het daardie oggend in Gansbaai gaan Haaihokduik. Deur die loop van die skof moes ons hulle bel om te hoor wat hulle op die boot beleef. Op die ingewing van die oomblik het ons gereël dat ons twee kaartjies vir luisteraars kon weggee om ook in ’n latere stadium te gaan Haaihokduik.
Om in aanmerking vir dié gesogte prys te kon kom, moes luisteraars daardie oggend die korrekte antwoord op ’n eenvoudige vraag na ons SMS-lyn in die ateljee stuur. Binne sekondes het letterlik honderde SMS’e na die lyn ingestroom. Riaan was ons wenner en ons het hom gebel. Hy was terselfdertyd oorbluf en opgewonde oor die nuus.
Daardie middag het Riaan ’n draai by Radio Tygerberg kom maak om sy storie met ons te deel. Hy het vertel dat sy 12-jarige seun vir maande reeds smeek dat hulle kan gaan Haaihokduik. Hy het gedink dat hy die bonus wat hy by die werk sou kry daardie jaar in Desember sou gebruik om sy seun vir sy verjaarsdag vir hierdie uitstappie te neem. Toe kom die skok: Weens ekonomiese druk kon die maatskappy vir wie Riaan werk daardie jaar geen bonusse uitbetaal nie. Meteens het hy nie geweet hoe hy hierdie belofte aan sy seun sou kon nakom nie.
Natuurlik het Riaan geen manier gehad om sy belofte aan sy seun ’n werklikheid te maak nie aangesien hy geen ekstra inkomste gehad het om vir hierdie uitstappie te betaal nie. Hy het daarom sy hart voor God uitgestort, Hom vir ’n wonderwerk gevra en die situasie by Hom gelos. Sonder dat ons vooraf enige kennis hiervan gehad het, het God ons daardie oggend, deur sy Heilige Gees, gelei om Riaan se SMS tussen die honderde ander uit te kies. Riaan se woorde aan die einde van die storie het my veral geraak toe hy sê: “Nou kan ek vir my seun sê dat dit nie net ’n geskenk van my, sy aardse pa, af is nie, maar reguit van ons Hemelse Pa.”
Benodig jy soos Riaan ’n deurbraak wat net God kan bewerkstellig? Luister dan weer na die woorde in 1 Petrus 5:7: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” Ook in Filippense 4:18-19-20 lees ons: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.”
Niks is vir God onmoontlik nie. Kom ons stort ons harte voor Hom uit en dank Hom byvoorbaat dat Hy vir ons kan voorsien. Die deurbraak is dalk veel nader as wat ons dink. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek nie bekommerd hoef te wees oor die dag van môre nie omdat U reeds weet wat ek benodig. Versterk my asseblief terwyl ek vir ’n deurbraak wag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Sien foto van Riaan hier: http://benescke.co.za/blog/2014/05/27/dag-18-dankbaar-dat-god-voorsien/#more-389