DANKBAAR VIR JESUS SE HEMELVAART - 29 Mei 2014
Deur Benescke Janse van Rensburg
Dit is stil behalwe ’n onderlangse gebrom in die vertrek waar die gelowiges agter ’n geslote deur bymekaargekom het. Hulle is bekommerd. Bang. Onseker oor hulle toekoms. Gaan hulle net soos Jesus vervolg word? Gaan hulle vermoor word? Hoewel niemand dit hardop noem nie, maal Jesus se woorde voor sy Hemelvaart deur hulle gedagtes: “Dit is goed vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, dan sal die Helper, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek weggaan, dan sal Ek Hom na julle toe stuur” (Johannes 16:7). Wie of wat is hierdie Heilige Gees, die Helper, van wie Hy gepraat het?
Meteens bars ’n harde geluid los wat die vertrek soos ’n stormwind vul terwyl vuur bokant elke gelowiges se kop verskyn. In ’n oogwink word die vrees met vrede vervang. Die onsekerheid met selfvertroue. Want met hierdie slag het hulle die Heilige Gees van God ontvang. Die Trooster, Leidsman en Helper wat hulle in staat gestel het om sonder vrees uit te gaan, groot wonderwerke te doen en selfs bereid te wees om te sterf sodat die wêreld die goeie nuus van Jesus Christus kon hoor.
Vandag herdenk ons Jesus se Hemelvaart. Hier is drie redes waarom ons Jesus kan bedank dat Hy weggegaan het:
REDE 1: JESUS HET VIR ONS GAAN PLEK VOORBEREI
In Johannes 14:2-3 sê Jesus: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Is jy gereed as Jesus vandag sou terugkeer om ons te kom haal?
REDE 2: JESUS TREE VIR ONS IN WANNEER ONS NA GOD GAAN
In Romeine 8:34 lees ons: “. . .Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Jesus het op aarde dieselfde emosies deurgemaak wat ons vandag nog ervaar. Wanneer ons dus nie meer woorde het om te midde van ’n uitdaging te bid, kan ons vir God vra om ons deur sy Heilige Gees te lei met die wete dat Jesus terselfdertyd vir ons by Hom pleit.
REDE 3: JESUS HET VIR ONS DIE HEILIGE GEES GESTUUR SODAT ONS DIE VADER SE KRAG EN LIEFDE AAN DIE WÊRELD KAN WYS
Jesus het weggegaan sodat ons die Heilige Gees kon ontvang. En meer as dit, in Johannes 14:12-13 sê Hy: “Mense wat in My glo, sal dieselfde dinge doen wat Ek gedoen het, hulle sal meer doen, want Ek gaan nou na die Vader toe.” Die Heilige Gees doen die werk. Ons kan dus in afhanklikheid voor God gaan staan en Hom vra om ons as sy instrumente te gebruik om hierdie krag aan die wêreld te demonstreer.
Mag ons nooit vergeet waarom God sy Seun na die wêreld gestuur het nie. En kom ons dank Jesus vandag nuut dat Hy vir ons plek voorberei en vir ons intree terwyl ons daagliks daarna streef om gehoorsaam te wees as die Heilige Gees ons in ’n rigting lei. Dit is dalk jou geleentheid om God se liefde en krag aan ’n gebroke wêreld te demonstreer. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U, u Seun vir ons gegee het. Jesus, baie dankie dat U vir ons plek voorberei en ook vir ons intree en pleit by die Vader. Vader, help ons ook asseblief om gehoorsaam te wees deur die leiding van u Heilige Gees. Ek vra die in die Naam van Jesus Christus. Amen.