Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jou huis....'n tuiste - 4 Junie 2014

Carina Francke

Teksvers: Joh 14:23: "Jesus antwoord hom: As iemand  My liefhet, sal hy my woorde  ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na Hom toe kom en by hom woon."

Ons het nou al gesels oor ons Vader wat deur die Heilige Gees in ons kom woon en ons binnekant omdop, nuut maak en herskep sodat ons lighuise kan wees, maar meer nog - 'n tuiste waar Hy welkom voel. Hy doen wat Hy beloof het: "Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel en Ek sal vir hulle God wees , en hulle sal vir my 'n volk wees." (2 Kor 6:16)

Wanneer ons 'n fisiese huis betrek wat aan die  binnekant oorgedoen is, gee óns karakter daaraan deur meublement en versiering. Maar dit groei eers tot 'n tuiste wanneer die mense wat daarin woon in gesonde verhoudinge met mekaar staan, wanneer daar saam gekuier, gelag, gespeel en gehuil word en wanneer besoekers welkom voel.

Ek en jy het 'n bydrae te lewer  om van ons nuutgemaakte lewens 'n tuiste te maak waar die Here deur sy Gees welkom, tuis en gemaklik voel.  Die sleutel hiertoe is LIEFDE - God se  liefde. Dit is in die eerste plek 'n liefde vir God wat jou totale wese behels: hou hart, siel, krag en verstand. Met hierdie soort liefde behoort ek dus my naaste niks minder intens lief te hê as wat ek myself liefhet het nie.( Matt 22:37-39).

In Joh 14:21,23 koppel Jesus die bewys van ons liefde vir Hom aan gehoorsaamheid: As iemand  My liefhet, sal hy my woord en gebooie ter harte neem (of bewaar)."  Maar Hy gee 'n belofte as dit die geval is: " my Vader sal hom liefhê, en ons sal by hom kom woning maak."

As  wedergebore gelowige woon jou Skepper en Nuutmaker binne-in die huis van jou lewe.  Die vraag is net:  is jy so oorweldig deur jou liefde vir Hom dat jy alles in sy Woord ter harte neem en doen wat daarin gevra word? Slegs as jy Ja! antwoord is dit moontlik om Sy woonplek in 'n tuiste te omskep.

Hoor ek jou dink: "Dis onmoontlik om dit reg te kry!"  Dan wil ek jou gerus stel: ons Ere-huisbewoner het voorsiening gemaak dat jy dit kán doen - Hy het jou hart besny deur jou verbondenheid met Christus (Kol 2:11) en Hy stel jou  daartoe in staat. Daarom is niks vir jou onmoontlik nie! 

Gebed: Hemelse Vader, in my eie menswees kan ek U nie laat tuis voel nie. Ek vra dus vanoggend: Laat die bewustheid van U teenwoordigheid so oorweldigend in my binneste wees dat liefde en gehoorsaamheid aan U woorde 'n natuurlike gevolg daarvan sal wees. Amen.

Previous article: Jou huis....'n tuiste wanneer daar liefde is - 5 Junie 2014 Prev Next article: Jou huis...'n tuiste onder vernuwing - 3 Junie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.