Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Kom ons stap in sy voetspore - 1 Augustus 2014

Stephan Hoffman

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes 1:14 1983-vertaling

Die evangelie volgens Johannes begin met woorde en beelde wat bekend was binne die Hellenistiese (Griekse) taal en wêreld waarin dit geskryf is. Woorde soos logos wat vertaal is met “die Woord” en beelde soos lig en donker sou vir die eerste lesers baie bekend geklink het.

Volgens die ou Griekse wysheid was die goddelike en aardse wêreld van mekaar geskei. Johannes breek egter met vers 14 weg van hierdie idee, met die wonderlike boodskap dat “Die Woord” waardeur alles ontstaan het onder ons kom woon het. Die goeie nuus is dat God die skeiding oorbrug in Jesus Christus. Die bron van ware lig het in hierdie donker wêreld kom skyn. God met ons!

Johannes die doper getuig van hierdie wonderlike gebeure; die Een wat voor hom al daar was, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, die Een wat met die Heilige Gees doop, die Messias, die Christus, die Seun van die Mens kom na die wêreld toe!

Ons lees in die res van hoofstuk een, hoe die dissipels agter hierdie man begin aan stap, al besef hulle nog nie wie Hy werklik is nie, begin hulle Hom volg.

Dalk voel jy ook soms of die wêreld waarin ons vandag leef gevul is met donkerte. Dalk ervaar jy dat daar skeiding is tussen jou en God. Die troos is dat daar te midde van die duister, ‘n lig skyn. Die ware bron van lig, goedheid en liefde het na die wêreld toe gekom. Jy kan ook soos die dissipels nader kom en na Hom begin luister, jy kan Hom begin volg, al verstaan jy dalk nie alles nie, kan jy in vertroue en geloof agter Hom begin aanstap. Hy is die Een wat jou ook kan vervul met die Heilige Gees, sodat jy te midde van die donker, iets van Sy heerlikheid kan raaksien. Hy is die Een wat dit wat skeiding maak tussen jou en God of tussen jou en ander mense kan wegneem.

Kom ons stap weer in sy voetspore.

Gebed: Almagtige Skepper, baie dankie dat U nie vêr bly van my af nie. Dankie dat U in Jesus Christus en deur die werking van u Heilige Gees, na hierdie donker wêreld tot kom. Dankie dat U naby my is en my lei deur u Woord en Gees. Help my om weer opnuut ‘n volgeling van Jesus te word. Amen

Previous article: Hoekom volg ek Hom? - 4 Augustus 2014 Prev Next article: Genade onbeskryflik groot - 31 Julie 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.