Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hoekom volg ek Hom? - 4 Augustus 2014

Stephan Hoffman

 

Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van 'n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.  Johannes 2:23-25(1983-vertaling)

Jesus raak gewild oor verskeie redes. Hy verander water in wyn by die bruilof in Kana en doen wondertekens. Hy raak aan die ander kant ook ongewild by die Jode omdat Hy die tempel reinig deur die geldwisselaars met ‘n sweep uit te jaag. Wanneer hulle Hom hieroor konfronteer sê Hy dat Hy die tempel in drie dae sal oprig. Hiermee verwys Hy na die opstanding op die derde dag nadat hulle sy tempel (liggaam) vernietig het aan die kruis.

Ons lees dat baie mense tydens die viering van die paasfees tot geloof in Hom kom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Jesus verlaat Hom egter nie op mense nie, omdat Hy weet hoe mense is. Jy sien, die mense by wie Hy gewild of ongewild is, verstaan nog nie regtig wie hierdie man is nie. Party sien Hom as ‘n wysheidsleraar (Rabi) ander sien Hom as ‘n blote wonder doener en vir ander is hy ‘n politieke leier. Jesus is egter baie meer as net al hierdie dinge wat hulle van Hom verwag. Hy is God self wat mens geword het. Hierdie wete sou egter eers baie later by die dissipels deurdring nadat Hy uit die dood opgewek is (v22).

Miskien verwag ons ook soms te min van God. Ons dink dalk ons het God net nodig om vir ons iets te doen, leer of ons te help met ‘n wonder, of om ons omstandighede te verander. As ons die Here oor hierdie selfsugtige redes volg, verstaan ons nog nie wie Hy is nie. Ons behoort Jesus nie te volg oor wat Hy vir ons kan doen nie, maar oor wie Hy is. Die lewende opgestane Heer! Die Koning van die heelal wat ons oneindig liefhet.

Kom ons gaan ondersoek weer eerlik die gesindheid in ons eie harte. Kom ons maak seker dat ons Jesus vir die regte redes volg. Kom ons gaan leef weer met eerbied en dankbaarheid, gehoorsaam aan hierdie Koning van die konings. Kom ons leef in ‘n verhouding van ware liefde met Hom. Dit kan selfs beteken dat dit nie noodwendig vir ons lekkerder of gemakliker sal wees nie, maar dit is beslis die moeite werd as ons Hom ken en liefhet.

Gebed: Here, vergewe my asseblief as ek U soms vir die verkeerde redes volg. Help my om minder selfsugtig te wees en nie net te dink aan wat U vir my kan doen nie, maar wat ek uit dankbaarheid vir U kan doen. Vul asseblief my hart met ware liefde vir U en my naaste. Amen

Previous article: Sy groot geskenk aan ons - 5 Augustus 2014 Prev Next article: Kom ons stap in sy voetspore - 1 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.