Hy het vir jou gely - 18 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het.En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Johannes 12:44-45
Jesus is op pad Jerusalem toe, die tyd van sy kruisiging het nou naby gekom...
Maria salf Jesus se voete met nardusolie terwyl Judas kla oor die geld wat vermors word. Die Fariseërs besluit om vir Lasarus dood te maak omdat baie mense op grond van sy opwekking tot geloof gekom het. ‘n Skare prys en loof Jesus terwyl hy op ‘n donkie in Jerusalem inry, ‘n skare sou ook ‘n ruk later saam skree: Kruisig hom!
Die dissipels het al hierdie dinge nie mooi verstaan nie (v16), hulle sou eers na sy opstanding en hemelvaart verstaan wie hierdie man werklik is en wat hier gebeur het.
Jesus deins egter nie terug vir die verskriklike pyn en lyding wat op Hom wag nie. Hy sê: “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik” (v27-28).
Jesus se liefde vir jou en vir my is so sterk dat Hy die pad van lyding wat op Hom wag tegemoet stap. Hy het gekom om die straf vir ons sonde op Hom te neem. God straf in sy regverdigheid die sonde, maar in sy genade straf Hy eintlik Homself. Daarom sê Jesus ook: “Wie my sien, sien ook Hom wat my gestuur het”.
Jesus kom wys vir ons hoe die liefde van God lyk. God se liefde is so sterk dat dit die wrede eis van ons liefdeloosheid betaal. Die haat, afguns, jaloesie en liefdelose reaksie van die mens op Jesus se liefde, is tipies van elke mens. Ons selfsug beantwoord baie keer God se liefde met haat. Ten spyte hiervan is Jesus bereid om die volle prys te betaal, sodat ons vergifnis kan ontvang.
Jesus het ook in jou plek hierdie pad gestap...
Gebed: Here, ons kan nooit verdien dat U ons so oneindig liefhet nie. Soveel keer reageer ons met liefdeloosheid, selfsug en haat. Help ons om te besef wat U vir ons kom doen het en om U liefde te beantwoord met dankbare liefde teenoor U en ander mense. Dankie dat U ons vergewe en dat U die pad van lyding ook in ons plek kom stap het. Dankie dat U regverdig en genadig is. Amen