Ek is die opstanding en die lewe - 15 Augustus 2014
Stephan Hoffman
Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Johannes 11:25-26
Lasarus was siek, maar Jesus wag nog twee dae in die dorp voordat Hy vertrek om na hom toe te gaan. Teen die tyd dat Hy daar aankom, is Lasarus reeds die vierde dag dood en begrawe. Marta en Maria dink altwee dat Jesus vir Lasarus kon red toe hy nog gelewe het, maar Jesus wil aan almal wys dat Hy ook mag het oor lewe en dood. Jesus huil saam met sy vriende omdat hy hulle hartseer verstaan en beleef, maar Hy sê: “Ek is die opstanding en die lewe”. Jesus self is die bron van lewe. Hy verander ook die definisie van ware lewe. “Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”.
Om in Jesus te glo is ware lewe, om in verhouding met Hom te lewe is om waarlik te bestaan. Sonder Hom kan jy dalk biologies lewe maar geestelik morsdood wees. Deur Hom kan jy biologies sterf, maar ewig bly lewe!
Glo jy dit? Lewe jy werklik?
Ons is ook soos Lasarus geroep uit die doodsbestaan van die sonde. Ons is opgewek tot ‘n nuwe lewe in Christus. Ons het ware, ewige lewe ontvang. Ons sal ook eendag opstaan en saam met God in sy koninkryk lewe.
Hierdie wete laat ons ook anders lewe hier op aarde. Ons is nie hopeloos, moedeloos en raadop nie. Ons het ‘n groter perspektief wat deur die graf en dood strek. Ons het ‘n lewende hoop omdat ons die lewende Here ken.
Mag ons weer opnuut voluit gaan lewe tot die eer van God. Soveel mense kruis elke dag ons pad, wat eintlik “lewende lyke” is. Mense wat biologies bestaan, maar geestelik dood is. Mag ons die boodskap van hoop en ware lewe ook met hulle gaan deel!
Gebed: Here Jesus, dankie dat U my geroep het uit die donker graf van die sonde. Dankie dat ek ‘n nuwe mens is wat voluit kan lewe met hoop, krag en met vrede, omdat U my so liefhet. Dankie dat ek ook eendag saam met U sal opstaan en in u koninkryk sal deel. Help my om hierdie boodskap van ware lewe te deel met ander wat nog vasgevang is in die sonde en die dood. Amen