Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Volmaakte vrede - 20 Augustus 2014

Stephan Hoffman

 

“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.  Johannes 14:27

Jesus berei sy dissipels voor op die feit dat Hy gekruisig gaan word, gaan opstaan uit die dood en gaan opvaar na die hemel. Hy wil nie hê dat die dissipels bang of ontsteld moet wees nie. Hy verseker hulle dat Hy gaan om vir hulle plek voor te berei by die Vader. Hy belowe ook om die Gees van die waarheid na hulle toe te stuur as Voorspraak. Die Gees sal by hulle bly en in hulle wees. Hy sal hulle nie as weeskinders agter laat nie. Jesus beloof ook om terug te kom en hulle te kom haal. Al wat Hy vra is dat hulle Hom sal liefhê (v21).

Die vrede wat Jesus nalaat is nie die valse soort vrede van die wêreld nie, maar ware vrede tussen God en mens en mense met mekaar. Dit is ‘n soort vrede wat nie deur vrees gedryf word nie, maar uit ware liefde ontspring.

Soms voel dit ook dalk vir ons of die Here vêr van ons af is. Dalk voel jy ook soms soos ‘n weeskind in hierdie wêreld? Ons kan verseker wees van God se teenwoordigheid in en by ons deur die Heilige Gees wat ons lei, troos en versterk. God sal jou nooit alleen laat nie. Ook al skiet ons liefde te kort, is God se liefde en trou so groot vir ons. Ons kan met hierdie perspektief lewe dat Jesus ons ook eendag sal kom haal om saam met Hom by die Vader te lewe.

Jesus het ook ware vrede vir ons nagelaat. Hy het die verhouding tussen God, ons, ander mense en die natuur, wat deur ons eie selfsug en sonde gebreek was kom herstel. Daar aan die kruis van Golgota het Hy ook jou verhouding met God kom heelmaak. Hy het ook die graf vir jou oopgebreek en ‘n pad na die ewige lewe vir jou kom voorberei.

Hierdie wete kan jou lei tot ‘n ervaring van ware vrede. ‘n Soort vrede wat alle verdienste en verstand te bowe gaan. ‘n Soort vrede wat net God kan gee.

Kom ons gaan leef weer opnuut met hierdie verwagting en hoop op ons Here. Kom ons leef ook die vrede wat aan ons geskenk is uit teenoor elkeen wat oor ons pad kom. Kom ons gaan wys ook aan ander mense die weg na God toe, deur Jesus Christus!

Gebed: Here, baie dankie dat U my nooit alleen laat nie. Dankie dat U my so liefhet dat U die verhoudings wat ek deur my selfsug gebreek het, kom herstel deur Jesus Christus. Help my asseblief om hierdie volkome en ware vrede ook uit te leef in die wêreld, totdat U weer kom om my ook te kom haal. Amen

Previous article: Ek is die wingerdstok - 21 Augustus 2014 Prev Next article: Wees lief vir mekaar - 19 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.