Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ek is die wingerdstok - 21 Augustus 2014

Stephan Hoffman

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.  Johannes 15:5

Jesus gebruik ‘n baie bekende beeld uit die wêreld waarin Hy op aarde geleef het. Die mense ken ‘n wingerd, hulle weet hoe die lote aan die wingerdstok geheg is. Hoe die loot nie sonder die wingerdstok kan bestaan en vrugte dra nie. Hulle weet ook dat lote gereeld opgetel en reg gesnoei moet word sodat hulle goed vrug kan dra.

Jesus wil graag hê dat ons sal besef dat ons aan hom gebonde moet lewe, soos ‘n loot aan ‘n wingerdstok. Alleen as ons in ‘n vaste verbintenis, ‘n lewende verhouding met Hom lewe, kan die lewensap van die Gees ook deur ons lewe vloei. Ja soms word ons ook opgebind en gesnoei en dit is nie altyd lekker nie, maar die vrug van die Heilige Gees maak dit die moeite werd. Ons moet ook die waarskuwing hoor dat die lote wat nie vrugte dra nie, weggegooi word in die vuur en verbrand word. Die Woord bly altyd ‘n tweesnydende swaard wat aan die een kant troos en genees, maar ook waarsku en dit wat verkeerd is wegsny.

Die vraag is hoe ons aan Jesus verbonde bly? Jesus sê vanaf vers 9 dat dit deur die liefde is. Deur liefde is die Vader en die Seun aan mekaar gebind. Deur liefde word ons ook aan God gebind en leef ons met dankbare blydskap gehoorsaam aan God. Hierdie liefde bind ons ook aan mekaar en aan ander mense. Inteendeel Jesus stel dit as ‘n opdrag: Julle moet mekaar liefhê! (v17) Liefde is dus nie net ‘n emosie of iets wat ons na wille keur kan bewys teenoor wie ons wil nie. Liefde is ‘n imperatief, ‘n bevel wat ons uit dankbaarheid moet uitleef teenoor mekaar.

Jesus bemoedig ook die dissipels om te bly getuig van hierdie wonderlike liefde van God ten spyte van die haat en verwerping waarmee die wêreld reageer. Die Heilige Gees sal ons ook bemoedig en in staat stel om te bly getuig.

Gebed: Almagtige God, baie dankie dat ek deur Jesus Christus aan U verbind is met ‘n onbreekbare band van liefde. Dankie dat U my optel, skoon was en reg snoei, sodat ek ook vrug kan dra tot u eer. Help my om die liefde wat U so onverdiend oor my uitstort, ook uit te leef teenoor ander mense, al word dit soms beantwoord met haat. Gee tog deur u Heilige Gees aan my die krag om nooit op te hou om van u liefde te getuig nie. Amen

Previous article: Hou moed - 22 Augustus 2014 Prev Next article: Volmaakte vrede - 20 Augustus 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.