Hy leef in hoop - 30 September 2014
Te midde van die onsekerheid en stryd van die lewe hou die gelowige man vas aan die hoop wat God hom bied. Hy kan verby sy omstandighede kyk en positief bly omdat hy weet dat hy in lewe en dood aan Christus behoort en daarom ’n toekoms het.
Hy weet dat hy met God die toekoms kan instap. Al is die toekoms onbekend en soms selfs intimiderend, ken hy die God wat die toekoms in sy hand hou. Waar sy lewenspad ook al heen lei, hy weet dat God daar sal wees.
Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem. Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.” Deuteronomium 31:7-8
Die gelowige man sien God op die mees onverwagse plekke in sy lewe raak. Onseker van wat die toekoms inhou, was Jakob op pad na sy ma se familie in ’n vreemde land. Een nag het God aan hom verskyn waar hy langs die pad gelê en slaap het. Lees die verhaal in Genesis 28:13-17
Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee.
Hy weet daar wag vir hom ’n lewe ná die dood. Alhoewel die apostel Paulus ’n sinvolle bediening op aarde gehad het, was sy groot verlange om die onvolmaaktheid van hierdie wêreld agter te laat en vir ewig met Christus in heerlikheid verenig te word:
Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. Filippense 1:20-24)
Hy sien uit na Jesus se wederkoms. Lees in 1 Tessalonisense 5:1-11 hoe Paulus die gelowiges aangemoedig het om in afwagting van Jesus se wederkoms te leef.
Het jy jouself in hierdie stukke ontdek? Kan jy sê: ek is hy?
Gebed: Dankie Here dat ek kan vashou aan die hoop wat net U my bied. Dankie dat U elke tree saam met my stap en dat ek weet na my lewe hier op aarde die ewige lewe saam met U vir my wag. Ek loof u Naam. Amen
Indien hierdie reeks jou opnuut oortuig het dat jy in die Bybel hoop kan vind vir elke situasie waarin jy jou bevind en dat dit jou kan help om weer koers te kry, laai gerus EK IS HY hier af. Onthou die Skrif daag jou uit om van nuuts af weer te begin om jou taak en opdrag as ’n gelowige man ten volle uit te leef. Mag die Skrifgedeeltes in hierdie boekie ook met jou in jou situasie praat.
: http://www.bybelgenootskap.co.za/index.php/af/die-woord-en-jy/bybelhulpmiddels/ek-is-hy-e-boek