Hy kry soms swaar (2) - 29 September 2014
Ons gelowige man is nie volmaak nie. Daar is swakhede in sy lewe wat pyn veroorsaak, maar hy beveg dit met die genade van God.
Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. 2 Korintiërs 12:7b-10
Soms voel hy eensaam en uitgelewer. Lees wat die digter in Psalm 22 skryf.
My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
En tog glo die man wat in 'n verhouding met God staan vas dat Hy hom weer sal help. Lees weer 'n keer Psalm 121.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
'n Gelowige man weet hy kan nuut begin ten spyte van sy verlede. Ten spyte van die feit dat hy die Kerk van Jesus Christus hewig vervolg het, het die Here Paulus tot ’n nuwe lewe geroep. In Handelinge 26:12-19 lees ons hoe hy met vrymoedigheid hiervan teenoor koning Agrippa getuig.
In Genesis 39:19-23 lees ons dat selfs toe Josef vals beskuldig en in die tronk gegooi is, het hy ervaar dat God by hom is. Die gelowige man weet dat God ook in swaarkry by hom is en al kry hy swaar, weet hy dat God ’n groter plan vir sy lewe het. Ten spyte van die onreg wat Josef se broers hom aangedoen het, kon hy later terugkyk en God se hand in sy lewe raaksien. Lees Genesis 45:3-8
Die belangrikste is dat die gelowige man loof God ten spyte van sy swaarkry. Paulus en Silas moes ly omdat hulle die evangelie van Jesus Christus verkondig het. In Handelinge 16 lees ons: "Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister."
Ontdek jy jouself en kan jy sê: Ek is hy?
Gebed: Here, help my om soos Paulus nie toe te laat dat my swaarkry my van U skei nie. Gee dat ek te midde van swaarkry sal voortgaan om U te loof en prys. Amen