Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is groot en klein, ver en naby - 7 November 2014

Danny Fourie

Moenie bang wees nie … ek bring vir julle 'n goeie tyding … Lukas 2:10

Ons word groot met die idee dat God groot is. Baie groter as ons. Die psalms stel God voor as die Koning van die heelal wat met krag en majesteit regeer (Psalm 111:2-3). Toe God na die aarde gekom het, het Hy dit gedoen op 'n manier wat niemand verwag het nie. God het nie as die die toppunt van grootheid gekom nie, maar as die toppunt van kleinheid. God wat die sterre en planete met sy hand kan vashou, het 'n menslike embrio geword, 'n baba in doeke toegedraai.

Ons stel ons God ook voor as die Ewige. Hy was van altyd af daar en sal vir altyd daar wees. As ons met ons ons menslike tydigheid oor God se ewigheid dink, voel dit vir 'n mens of Hy ontoeganklik is. Ver weg. Daarom vul dit ons met vrees. Maar met Jesus se koms na ons het God hierdie afstand tussen ewige God en tydelike mens oorbrug. God word een van ons. Daarom sê die engele: “Moenie bang wees nie.” Soos wat 'n kind toeganklik is, so het God toeganklik geword.

God het 'n enorme risiko geneem toe Hy in Jesus na ons gekom het. Sou mense Hom erken as God? Destyds het die mense gevra: Maar is Hy nie die seun van die timmerman nie? Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? (Johannes 1:46). God het al sy majesteit, heerlikheid en mag afgelê toe Hy mens geword het. Wie het dit verwag?

Geen wonder die mense van daardie tyd was verbaas nie. Verwonderd dat God so gehandel het, so 'n risiko geneem het – maar Hy het dit gedoen omdat Hy sy liefde vir my en jou wou demonstreer.

Gebed: Dankie Here God dat U ook klein is, en naby is, en dat U u heerlikheid afgelê het om u liefde vir my te kom wys. Amen.

Previous article: Hy het jou gemaak - 10 November 2014 Prev Next article: Kan ons nog verwonderd wees oor iets? - 6 November 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.