Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Kan ons nog verwonderd wees oor iets? - 6 November 2014

Danny Fourie

Almal wat dit gehoor het was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het.  Lukas 2:18

Daar is baie dinge wat ons as gewoon aanvaar. Die dag wanneer beurtkrag jou woonbuurt tref of die water in jou omgewing afgesny word, besef ons hoe gewoond ons aan 'n skakelaar en 'n kraan geword het. In werklikheid is dit iets besonders. Draai die kraan oop en daar is water; sit die skakelaar aan en daar is lig of die stoof word warm. Druk jou plastiekkaart in die OTM en wie is nog verwonderd wanneer dit vir jou banknote gee? Skype met jou kinders in die buiteland of klim op 'n vliegtuig en binne twee uur kan jy tussen Kaapstad en Johannesburg vlieg en vanaand terugkeer huis toe. Wie van ons is nog verwonderd oor hierdie wonderlike uitvindsels van ons tyd?

Die gebrek aan verwondering geld ongelukkig ook ons geestelike lewe. Die meeste van ons besit meer as een Bybel en baie van ons is deel van geloofsgemeenskappe. Ons hoor gereeld dat God ons liefhet – in so mate dat Hy selfs mens geword het en sy Seun Jesus Christus na ons gestuur het. Maar wie raak nog hieroor opgewonde en onderstebo van verbasing?

Ek is jaloers op daardie mense van die Kersverhaal. Hulle was verstom. “Hoe kan so-iets wees?” het hulle gesê. Vir my en jou is die Kersverhaal so gewoon. Soos om 'n kraan oop te draai en 'n skakelaar aan te sit.

Die geboorte van Jesus was in werklikheid ongelooflik. Daarmee het God gewys dat Hy veel meer vir ons as mense omgee as wat ons besef. En dat Hy veel meer wou doen om na ons uit te reik as wat ons ooit gedink het.

Daarom was die mense so verbaas, verwonderd. Dat God só is. Hulle het nie gedink dat dit sal gebeur nie – dat God werklik as mens gebore word om naby aan ons te kom.

Gebed: Here, help my om met vars oë en 'n onbederfde hart na U te kyk. Help my om die diepte van u liefde te (her)ontdek. Amen.

Previous article: God is groot en klein, ver en naby - 7 November 2014 Prev Next article: God soek ons op - 5 November 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.