Skuldbelydenis maak jou vry - 19 November 2014
Danny Fourie
Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 1 Johannes 1:9
Wanneer 'n mens besef dat jy voor God sondig is, maak dit 'n mens hartseer. Jy begryp dan dat sonde iets is wat tussen jou en God staan. En 'n mens wil graag sien dat daardie kloof tussen jou en God verdwyn. Dan kan daar 'n behoefte by jou kom om jou sonde en skuld voor God te bely.
Daarvoor moet 'n mens jou sonde ken. Eers wanneer 'n mens nie meer jou sonde ontken of goedpraat nie, maar eerlik insien en verstaan, kan jy jou sonde agter jou sit. Johannes skryf: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh 1:8,9)
Jou sondebesef lei nie tot 'n benoudheid en depressiwiteit nie. Wanneer jy jou sonde bely, maak dit juis die pad vir jou oop om bevry en vernuwe te voel.
Die psalmdigter sê: “Dit gaan goed met ’n mens wat nie luister na mense wat verkeerd doen nie, wat nie doen wat sondaars doen nie, en wat nie saam spot wanneer mense sit en spot nie. (Psalm 1:1; Bybel vir Almal) Drie keer die woordjie “nie”. Wanneer 'n mens ja gesê het vir God, sal jy al hoe meer gewillig wees om nee te sê vir die sonde.
Kan 'n mens die sonde oorwin? As kinders van God, woon die Heilige Gees in ons. In die krag van die Gees kan ons weerstand bied teen die sonde en dit oorwin. Paulus sê: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee.” (Efesiërs 6:10,11)
Wanneer 'n mens die sonde beveg en oorwin, word die lewe mooier.
Gebed: Here Jesus, help my om my sonde te erken en te bely. Dankie vir die vryheid en die nuwe lewe wat U my gee. Amen