Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hy vergewe ons vir alle sonde - 18 November 2014

Danny Fourie

“Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer … Toe het ek my sonde bely …” Psalm 32:3,5

Die Bybel praat nie baie bemoedigend oor ons as mense nie. Luister hierna: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.” (Romeine 3:11-12)

Die sonde sit diep in ons, vasgegroei. Wanneer ontdek ons dat ons sondaars is? Wanneer ons God se liefde en heiligheid raaksien. 'n Sondebesef is nie iets wat natuurlik by ons kom nie. In beginsel wil ons nie weet dat ons sondig is nie. Wanneer 'n mens God egter leer ken, eers dan neem 'n mens se sondebesef toe.

Iemand vra of 'n sondebesef en kennis van jou sonde nie tot depressiwiteit lei nie? Dit is eerder so dat hoe meer jy jou eie sonde en gebreke besef, hoe groter word jou dankbaarheid dat jy 'n kind van God is.

Wanneer jy jou sonde sien, wil jy sê: “Maar ek is nie God se liefde werd nie! Hier in my lewe skiet ek tekort, daar misluk ek as mens. Ek sou baie meer goed kon doen, hoe is dit moontlik dat God met my uithou? Dat Hy sy Seun Jesus Christus vir my aan 'n kruis laat sterf het? Is God nie 'n groot en genadige God nie – dat Hy my ondanks my sonde tot sy kind aanneem?”

Op hierdie manier help 'n sondebesef 'n mens om uiteindelik God te loof en te prys. In die lig van jou sonde sal jy meer dankbaar teenoor God word dat jy sy kind mag wees. Sondebesef lei nie tot depressiwiteit nie, maar eerder tot 'n dieper vreugde oor God se liefde vir jou.

Gebed: Help my Here om my sonde raak te sien en dit te bely. Dankie dat U so wonderlik is om my ten spyte van my sonde, u kind te maak. Amen

Previous article: Skuldbelydenis maak jou vry - 19 November 2014 Prev Next article: Hy offer sy Seun aan die kruis - 17 November 2014 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.