Diensknegte vir Christus - 2 Maart 2015
Stephan Hoffman
Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Filippense 1:1-2
Paulus (en Timoteus) skryf vanuit die tronk, vermoedelik in Rome, Sesarea of Efese, aan die gemeente in Filippi. Hierdie eerste gemeente in die provinsie Masedonië was deur Paulus self gestig tydens sy tweede sendingreis (sien Handelinge 16:6-40). Dit is in hierdie vername stad waar Paulus vir Lidia die purperverkoper ontmoet het en waar hy en Silas geslaan en in die tronk gegooi is omdat hulle ‘n waarsêer gees uit ‘n jong vrou gedryf het. God het hulle op ‘n wonderbaarlike wyse gered deur ‘n aardbewing wat al die deure van die tronk laat oopgaan het. Die tronkbewaarder het ook tot bekering gekom nadat Paulus hom verhoed het om selfmoord te pleeg en die stadsbestuur moes later tot hul skande vir Paulus en Silas verskoning vra en hulle uit die stad begelei aangesien hulle Romeinse burgers was.
As Paulus nou die brief aan hierdie gemeente rig is dit om hulle te bedank vir hulle volgehoue ondersteuning en versorging. Paulus en Timoteus beskryf hulle eie identiteit as “diensknegte” of letterlik slawe van Jesus Christus en hulle noem die gemeente “heiliges” in Christus Jesus. Hierdie kosbare brief leer ons baie van hoe ‘n gelowige oor hom of haarself moet dink, of anders gesê oor die identiteit van ‘n gelowige “in Christus”. Hoe dink jy oor jouself? Kan jy jouself ook beskryf as ‘n dienskneg van Christus en ‘n heilige (afgesonder) in Christus. Indien wel, kan jy ook iets beleef van die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus.
Kom ons gaan leef vandag as diensknegte van Christus wat afgesonder is vir God, hierdie genade en vrede uit teenoor almal wat ons pad mag kruis!
Gebed: Here, baie dankie dat ek ‘n nuwe identiteit ontvang het in Christus. Help my asseblief om my tyd, energie en myself af te sonder en te wy aan U. Laat u vrede en genade ook oor my lewe en menswees heers. Amen