Bid ook vir ander - 3 Maart 2015
Stephan Hoffman
Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. Filippense 1:3-7
Hoe klink jou gebede tot God? Is dit belaai met versoeke en gedagtes oor jou eie belange en omstandighede? Of bid jou ook soos Paulus te midde van moeilike omstandighede, vir ander?
Ons raak so maklik vasgevang in ons eie pyn en bekommernis dat ons vergeet om ook aan ander mense te dink. Paulus bid terwyl hy in die gevangenis sit met dankbaarheid en blydskap vir sy medegelowiges. Hy dink nie net aan sy eie uitdagings nie, maar fokus op die omstandighede van die gemeente in Filippi. Selfs al is Paulus nou in boeie kan hy God dank vir mense wat vrygekoop is van die sonde en die dood deur Jesus Christus. Hy is dankbaar oor die gesindheid en optrede van die gemeente in Filippi. Hulle het vanaf die eerste dag saamgewerk aan die verkondiging van die evangelie. Paulus weet ook dat dit nooit te vergeefs sal wees nie, want dit is God wat die werk begin het en sal volvoer. Hy het groot liefde vir hierdie mense wat hy “in sy hart hou”.
Dalk beleef jy ook vandag uitdagings wat jou laat fokus op jou eie pyn en bekommernis. Onthou jy kan na God toe gaan met alles wat in jou hart is. Wil jy nie ook probeer om terwyl jy bid, aan ander mense te dink nie? Jy kan ook vandag blydskap vind in die gedagte dat God self besig is om te werk in hierdie wêreld en dat God sy werk verseker sal volvoer.
Kom ons verheug ons weer in die vryheid en verlossing wat ons deur Jesus Christus kan ervaar en ons deel ook hierdie dankbaarheid en vreugde met ander!
Gebed: Almagtige God en hemelse Vader, baie dankie dat U nie moed opgee met my of met die wêreld nie. Baie dankie dat U die goeie werk wat U begin het in en deur Jesus Christus sal volvoer. Help my asseblief om te fokus op u liefde en genade te midde van my eie omstandighede. Amen