Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 28 September

HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP, ENKELLOPERS


DAG 16: BEHAAL OORWINNING OOR “VERHOUDINGSDIEWE” – DEEL 2

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

[Agtergrond: Baie dankie vir die oorweldigende deelname om verhoudingsdiewe uit te wys. Vanweë die goeie reaksie het ek besluit om môre ook ’n Deel 3 by te voeg.]

DIEF 6: KLEIN JAKKALSIES

Hooglied 2:15: “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.”

 

Meestal is dit nie groot verskille wat ’n verhouding uiteindelik kan vernietig nie. Dit is klein dingetjies wat ophoop. Die tandepasta-proppie wat vir die soveelste keer nie opgedraai word nie. ’n SMS wat nie beantwoord word nie of ’n afspraak wat vir die soveelste keer op die laaste oomblik gekanselleer word. As hierdie jakkalsies nie dadelik aangespreek word nie, verander dit later in ’n trop jakkalse wat die wingerd (die huwelik, die gesin of werksverhouding) vernietig. Moenie wag dat die trop aanteel nie, roei dit so gou moontlik uit.

DIEF 7: AANSTOOT NEEM

Spreuke 19:11: “’n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.”

 

Beteuel jy maklik jou humeur of laat jy jouself toe om aanstoot te neem? Hoe neem ’n mens aanstoot? Hier is ’n paar voorbeelde: Jou skoonma sê jy moet meer sout in ’n spesifieke gereg gooi. Sy bedoel dit goed, maar jy sien dit as kritiek op jou manier van kosmaak. Jou man moedig jou dalk aan om te begin oefen. Hy wil jou help om jou gesondheid te verbeter, maar jy dink hy kritiseer jou gewig. Dalk wys jou kollega jou ’n manier om jou werk vinniger te voltooi. Hy bedoel dit goed. Jy sien dit as sy manier om vir jou te sê dat jy ’n stadige werker is.

In Spreuke lees ons dat dit makliker is om ’n stad in te val as om iemand met aanstoot in sy of haar hart te verander. Neem byvoorbeeld ’n kasteel met water reg rondom en ’n brug wat die kasteel met die land verbind. Wanneer ons aanstoot neem en onsself isoleer, kan ons vergelyk word met die kasteel se manskappe wat die brug na die land optrek. Net so maklik soos die manskappe die brug weer kan kan laat sak, kan ons ook van ons aanstoot ontslae raak deur dit te identifiseer en te kies om daarvan weg te stap.

 

DIEF 8: LEUENS

Spreuke 12:22: “Die Here het 'n afsku van leuenaars; Hy hou van betroubare mense.”

’n Patroon van leuens begin gewoonlik met ’n wit leuentjie. Byvoorbeeld: Jy sê jy het nie by die drankwinkel gestop op pad huis toe nie, terwyl die bottel wyn agter in jou voertuig lê. Jy sê die laatnag SMS is van jou ma terwyl dit eintlik van ’n kollega is wat by die werk met jou flankeer. Keer jy nie hierdie leuens nie, kry dit ’n houvas op jou omdat dit mettertyd ’n gewoonte word. God verafsku leuens. Begin dus van vandag af om in elke situasie die waarheid te praat en so te verhinder dat die vyand met hierdie donker, verwoestende patroon ’n houvas op jou kry.

DIEF 9: DIE VERLEDE

1 Korintiërs 13:5: “Dit (die liefde) . . . is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.”

 

Soms fokus ons só op wat in die verlede verkeerd geloop het dat ons, ons huweliksmaats, ons vriende of kollegas van ’n wonderlike verhouding in die hede beroof. Dit is te verstane dat jy te na gekom en beroof voel deur jou huweliksmaat se buite-egtelike verhouding of jou kollega se onbeskofte gedrag, maar besef jy dat jy, deur aanhoudend ou koeie uit die sloot te grawe, jou huidige verhouding vernietig?

 

Wat gebeur het, het gebeur. Jy kan dit nie verander nie. Wat jy wel kan doen, is om God te vra om jou te help om die verlede agter te laat terwyl jy doelbewus fokus om jou huidige verhoudings fantasties te maak.

 

DIEF 10: TELEVISIE

Een van die slinksste verhoudingsdiewe is beslis die televisie. Dit steel nie net ons tyd nie, maar ook ons vermoë om met ons kinders of huweliksmaats oor alledaagse belewenisse te gesels. Só begin ons om verby mekaar leef. Ek wonder: Is daardie fliek of sportwedstryd werklik vir jou belangriker as jou gesin? Waarom begin jy nie om net een aand in die week die televisie af te skakel, saam met jou geliefdes om ’n tafel te sit, speletjies te speel of huisgodsdiens te hou nie? Dit sal nie net die verhouding tussen julle versterk nie, maar julle ook die kans gee om mekaar opnuut te ontdek.

 

Vader God, dankie dat u Woord my daagliks lei om verhoudings ’n prioriteit in my lewe te maak. Help my asseblief om te keer dat die televisie belangriker as my gesin word, om die verlede agter te laat en ’n skoon bladsy om te slaan, om altyd die waarheid te praat al is dit soms moeilik, om nie aanstoot in my hart te koester nie en om die klein jakkalsies vroegtydig vas te vat sodat dit nie my verhoudings kan vernietig nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.


NUUSBROKKIES:

  • Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:

 

o         Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of 042-2432080 of 0828755440.

 

  • Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.

TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 29 September Prev Next article: Vers n dag - 27 September Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.