Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 29 September

HUIDIGE REEKS: FAMILIE, HUWELIK, OUERSKAP, ENKELLOPERS


DAG 17: BEHAAL OORWINNING OOR “VERHOUDINGSDIEWE” – DEEL 3

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Ek sluit hierdie sub-reeks oor verhoudingdiewe af met Deel 3.]

DIEF 11: JALOESIE

Deuteronomium 5:21: “Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Wat is jou reaksie wanneer jou beste vriend of vriendin ’n nuwe motor kry of ’n kollega jou van ’n bevordering vertel wat eintlik na jou kant toe kon kom? Gun jy hulle die sukses of raak jy jaloers en verwyt jy die ander persoon stilweg? Begin om die suksesse saam met die mense om jou te vier met die vertroue dat God op die regte tyd jou deurbrake sal bring. Jy mag dalk net verbaas wees hoe gou dit die jaloesie uit jou hart sal laat verdwyn.

DIEF 12: ’N VERSLAWING

Spreuke 23:31-32: “Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie. Agterna pik hy soos 'n slang, spoeg hy gif soos 'n kobra.”

Geweldig baie lesers het drank spesifiek as ’n verhoudingsdief uitgewys. Ek wonder: Het drank ’n houvas op jou lewe? Dalk ’n ander verslawing soos pornografie, wellus, dwelms, kos, rook, dobbel, ensovoorts. Wat doen jy aan jou probleem? Gaan soek jy hulp of laat jy toe dat dit ’n wig tussen jou en jou geliefdes indryf wat later te groot word om te oorkom? Onthou, ná die kortsigtige plesier van enige verslawing volg die pynvolle pik van ’n giftige slang.

DIEF 13: VERGELYK JOUSELF EN JOU VERHOUDINGS MET ANDER

Johannes 10:10: “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Een van die slinksste maniere waarop die vyand verhoudings opbreek of beskadig is om gedagtes in ons koppe te sit dat iemand anders ’n meer “perfekte” huwelik, gesin of verhouding as ons het. Het jy al ooit jou man met ’n vriendin s’n vergelyk en gewens dat joune meer romanties was? Dalk het jy jou vrou met ’n vriend s’n vergelyk en gewens dat sy meer aantreklik was? Of dalk het jy onlangs jou kinders met iemand anders s’n vergelyk en gewens dat hulle meer sportief was? Dalk wens jy vandag dat jy ’n verhouding met jou pa kan hê soos dié van jou vriend en sy pa.

Die waarheid is egter dat geen verhouding perfek is nie – ongeag hoe “perfek” dit vir jou lyk. Die ironie is dat wanneer jy jou eie verhoudings met iemand anders s’n vergelyk, jy eintlik jou huwelik, gesin of vriendskappe met ’n vals illusie in jou kop vergelyk waaraan jou geliefdes nooit sal kan voldoen nie. Is dit nie dalk tyd dat jy ’n slag weer die uniekheid van dit wat jy het, begin waardeer nie?

DIEF 14: NEGATIEWE WOORDE

Spreuke 18:21: “Die tong het mag oor dood en lewe . . .”

Is jy iemand wat elke geleentheid aangryp om iemand anders op te bou met positiewe, eerlike komplimente of is jy iemand wat op jou emosies reageer en maklik jou lewensmaat, jou kinders, jou skoonouers of ’n kollega uitskel as jy nie met hulle saamstem nie? Besef jy dat jou woorde krag het om ’n verhouding te versterk of finaal te vernietig?

DIEF 15: VERKEERDE PRIORITEITE

Mattheus 6:19-21: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Wat is die belangrikste in jou lewe? Dink ’n oomblik lank eerlik daaroor na. Jou werk? Jou sport? Jou geld? Of kan jy eerlik antwoord dat jou verhoudings vir jou die belangrikste is? Ek wonder: Wat is die waarde van ’n suksesvolle loopbaan as jy dit met niemand kan deel nie? Of wat is die waarde van ’n gesonde bankbalans as jy aand na aand alleen by die huis kom omdat jy jou geliefdes van jou af weggestoot het? Natuurlik is dit goed om suksesvol te wees en hard te werk, maar nie ten koste van jou verhoudings nie.

Kies om van vandag af jou prioriteite reg te stel. Stel God eerste in jou lewe en stel jou verhoudings tweede. Jy mag dalk net verbaas wees oor die hoogtes wat jy sal bestyg en die genot wat jy sal ervaar wanneer jy in sterk verhoudings in jou lewe belê het.

Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om my daagliks in my verhoudings te lei. Help my asseblief om nie myself of my verhoudings met ander s’n te vergelyk nie, maar om eerder die uniekheid van my eie verhoudings raak te sien en te vier. Help my om in elke situasie positiewe woorde te gebruik, om my lewe reg te prioritiseer. Help my of ’n geliefde om ’n verslawing betyds aan te spreek en om nooit jaloesie in my hart toe te laat nie, maar eerder saam met ander hulle suksesse te vier. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.


NUUSBROKKIES:

  • Benescke Janse van Rensburg tree op as motiveringspreker:

o         Saterdag 16 Oktober 2010 in Somerset-Oos. Kontakpersoon: Tersia Botha by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of 042-2432080 of 0828755440.

  • Argief: Het jy van ons vorige stukke misgeloop? Kry dit nou op ons webwerf, www.versndag.co.za. Jy kan hier ook self as leser inteken om die dagstukkie te ontvang.

TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel oor wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n e-pos aan: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Onthou om foto’s ook saam te stuur. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal die diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 30 September Prev Next article: Vers n dag - 28 September Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.