Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Oppas vir tonnelvisie - 5 Maart 2015

Stephan Hoffman

Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig. Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings. Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig; maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak. Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly, want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan.   Filippense 1:12-19

Wanneer ons swaar kry of teenspoed ons tref, kan dit maklik gebeur dat ons geestelike “tonnelvisie” ontwikkel. Hiermee bedoel ek dat ons so begin vaskyk in ons eie omstandighede dat die wêreld vir ons donker raak en ons perspektief totaal vernou, sodat ons net met onsself besig raak.

Paulus het ‘n groter perspektief. Hy kan selfs sy boeie en gevangenis binne die groter prentjie van God se koninkryk, heerskappy en oorwinning plaas. Daarom kan hy hom werklik verheug. Inteendeel hy getuig daarvan dat wat met hom gebeur het ten goede uitwerk of uitdraai. Die verkondiging van die goeie nuus is vir Paulus so belangrik dat hy sy gevangenskap met grasie aanvaar as deel van die bevordering van die evangelie. Deur sy boeie het die elite groep van die keiserlike wag van Jesus Christus gehoor en ook sy medebroers is bemoedig om met meer ywer te verkondig dat Jesus die Here is.

Paulus laat homself ook nie ontstel of afsit deur die negatiwiteit van mense wat met ‘n verkeerde gesindheid teen hom werk nie, solank die evangelie verkondig word is hy dankbaar en bly. Die gebede van die medegelowiges en die ondersteuning van die Heilige Gees maak dit vir Paulus moontlik om verby die mure van die tronk en sy eie boeie te kyk en die koninkryk van God raak te sien.

Kan jy ook die groter perspektief sien? Kan jy verby jou eie omstandighede kyk en die Koninkryk van God raaksien? Kom ons bid ook weer vir mekaar en vra dat God ons deur die Heilige Gees sal ondersteun, sodat ons nie moedeloos sal raak nie, maar ons sal verbly in die Here.

Gebed:  Here, daar is soveel uitdagings in ons lewens en soms voel dit of ons gevangenes van ons eie omstandighede is. Help ons asseblief om verby die mure van ons eie bekommernis te kyk en U te kan raaksien. Dankie vir ons medegelowiges wat saam bid en werk aan die uitbreiding van u koninkryk. Ons dank U ook vir u Heilige Gees wat ons elke dag bemoedig en ondersteun.  Amen

Previous article: Verheerlik Hom deur jou liggaam - 6 Maart 2015 Prev Next article: Met begrip en fyn aanvoeling - 4 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.