Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verheerlik Hom deur jou liggaam - 6 Maart 2015

Stephan Hoffman

Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.  Filippense 1:20-26

Hoe gebruik jy jou liggaam (σώματί)? Paulus spreek die hoop uit dat Christus deur sy liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur sy lewe of deur sy dood is. Jy sien ‘n mens se liggaam is nie iets boos, stoflik en verwerplik soos die dualistiese filosofie van Plato leer nie, nee jou liggaam is die tempel van God se Heilige Gees (sien 1 Korintiërs 3:16).

Jy kan God verheerlik deur die manier waarop jy lewe of sterwe. God se teenwoordigheid in ons liggame transendeer ook ons bestaan, daarom hou die aardse dood vir ons geen bedreiging in nie. Inteendeel Paulus sê hy verlang daarna om te sterf en in volkomenheid by Christus te wees. Hierdie is nie ‘n soort selfmoord gedagte nie, maar eerder ‘n manier om te sê hoe wonderlik en kosbaar die lewe in God se teenwoordigheid is.

Kan jy ook saam met Paulus uitroep “...vir my is om te leef Christus en om te sterf wins”?

As hierdie gesindheid ook in ons leef, hoef ons nie bang te wees vir omstandighede of vir wat mense aan ons kan doen nie. Ons kan vreesloos met hoop uitsien na die ewige lewe saam met God, maar ook voluit hier op aarde lewe en ons liggame gebruik as 'n lewende tempel waardeur God verheerlik word.

Die tempel was veronderstel om die plek te wees waar God se teenwoordigheid sigbaar en tasbaar word. Die een plek waar mense iets van God se genade, liefde en versorging moes beleef en waar hulle God kon ontmoet in aanbidding. Juis daarom is Jesus so ontsteld as die tempel misbruik word vir eie gewin en om ander uit te buit (sien Matteus 21:12 en Johannes 2:15). Jy behoort jou liggaam te gebruik as tempel van God. Met ander woorde mense moet iets van God se teenwoordigheid, liefde en versorging kan beleef in jou oë, dade en woorde.

Mag God ons deur die werking van die Heilige Gees vervul, sodat ons lewende getuienisse sal word van sy teenwoordigheid!

Gebed: Here, ek is so jammer dat ek soms my liggaam, u tempel, misbruik vir my eie gewin en om ander seer te maak. Help my om ‘n sigbare en tasbare getuienis te word van u teenwoordigheid in hierdie wêreld, sodat ander iets van u liefde in my sal kan raaksien en iets van u versorging by my sal beleef.  Amen

Previous article: Stry die goeie stryd - 9 Maart 2015 Prev Next article: Oppas vir tonnelvisie - 5 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.