Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Woord, die Lewe - 25 Maart 2015

Stephan Hoffman

Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.  1 Johannes 1:1

Lees 1 Johannes 1:1-10 volledig

Jesus Christus is God self wat werklik mens geword het en kom lewe het op hierdie stoflike aarde. Dit is die boodskap wat Johannes aan mense wil verkondig wat sukkel om dit te aanvaar. Die eerste lesers van hierdie teologiese traktaat was vermoedelik beïnvloed deur dwaalleraars wat beweer het dat Jesus net ‘n skyn liggaam gehad het en nie werklik mens was nie. Hulle wou nie aanvaar dat God in hierdie gebroke wêreld ingekom en mens geword het nie. Later word hierdie dwaling as die vroeg-Christelike gnostisisme bestempel.

Johannes beklemtoon dat die Woord van die lewe wat van die begin af  bestaan aan hom geopenbaar was op ‘n hoorbare, sigbare en tasbare (empiriese) wyse. Hierdie openbaring en persoonlike ontmoeting met die bron van alle lig en lewe self, Jesus Christus, laat ‘n mens voor ‘n keuse. Jy leef of aan Hom verbonde en in gemeenskap met Hom of jy leef in die duisternis. Dit help nie jy weet van Jesus Christus en jy bely selfs dat jy in Hom glo, maar jou aardse lewe is nog in die duisternis nie. Net soos Jesus werklik mens geword het en werklik gely het aan die kruis en werklik opgestaan het uit die dood, moet jou lewe werklik in gemeenskap met Hom gelewe word.

Die eerste stap in hierdie verhouding met Jesus Christus, is om eerlik te wees oor Wie Hy is en eerlik te erken wie jy is. Wanneer jy eerlik erken dat jy ‘n sondaar is wat God se genade nodig het, is die wonderlike nuus ook vir jou waar: “Hy is getrou en regverdig en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig”.

Wil jy nie vandag nog gaan seker maak dat jy eerlik is met jouself en met God nie? Kom ons erken dat ons afhanklik is van sy genade. Kom ons bely ons sonde en ons ontvang hierdie wonderlike belofte dat ons gereinig sal word. Hierdie Almagtige God wat alles gemaak het, het jou oneindig lief en wil jou graag in die lig van sy teenwoordigheid laat lewe. Jy kan ook die ware blydskap ervaar om in gemeenskap met God te leef en te weet jy is vergewe!

Gebed: O Bron van alle lig en lewe, ewige God en Skepper. Ek dank U dat U nie vêr is van my af nie. Dankie dat U in Jesus Christus werklik mens geword het en my kom verlos het van my sonde aan die kruis van Golgota. Dankie dat u lig die duisternis en die dood oorwin het en dat ek kan uitsien na ‘n ewige lewe saam met U. Here, ek is bevlek met sonde en kan nooit u genade verdien nie, maar ek is so dankbaar dar U my vergewe en my reinig. Help my asseblief om elke dag in verbondenheid en gemeenskap met U te lewe. Amen.

Previous article: Dit wat ons sê en dit wat ons doen - 26 Maart 2015 Prev Next article: Is jy 'n heilige? - 24 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.