Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Is jy 'n heilige? - 24 Maart 2015

Stephan Hoffman

Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broeders wat saam met my is, groet julle. Al die heiliges, en veral die wat aan die keiserlike huis behoort, groet julle. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal!  Amen.  Filippense 4:21-23 (1933/53-vertaling)

Is jy ‘n heilige?

Paulus sluit die brief aan die Filippense af deur te sê: “Groet die heiliges in Christus Jesus”. Om heilig te wees beteken nie dat jy “skynheilig” hoef te wees nie. Dit beteken ook nie dat jy nou beter as ander mense is en dat jy nooit foute maak nie.

Om heilig te wees beteken dat jy afgesonder is vir God. Jy wy met ander woorde jou menswees, jou hele wese aan God. Jy leef nie meer vir jou self en vir jou eie belange nie, maar vir God en tot eer van God. Dit wat vir God belangrik is word vir jou belangrik. In plaas van die aardse behoeftes, kry jy ook ander soort behoeftes. Jy wil graag die Koninkryk van God uitbou, jy wil graag in liefde leef, jy wil graag vrede hê, jy wil graag goed doen aan ander ens.

Om heilig te wees beteken jy stry die goeie stryd, jy probeer jou bes. Baie keer is dit die grootste verskil tussen mense, die wat probeer en die wat nie probeer nie. Sommige mense het hulleself al so negatief gedink oor hulleself dat hulle nie eers wil probeer goed doen nie. As jy egter besef hoe God jou sien deur Jesus Christus, verander jou idee van wie jy is. As jy besef dat God jou oneindig baie lief het, so lief dat hy alles opgeoffer het om jou te red. So lief dat God jou bly soek as jy afdwaal, dat Hy jou op jou naam roep en soek, dat Hy jou optel uit jou sonde en skoon was. God tel jou op deur sy Gees en druk jou vas teen sy hart van liefde, Hy neem jou aan as sy kind, al het jy hom al hoeveel keer seer gemaak en verwerp. Dan verander jou persepsie van die lewe, die wêreld en van jouself.

Jy is nie meer ‘n verlore sondaar nie, jy is ‘n verloste sondaar, ‘n kind van God! Ja, jy kan met dankbaarheid bely dat jy ook ‘n heilige is, nie omdat jy so goed en edel is of dit verdien nie, maar omdat God so genadig is.

Kom ons gaan leef weer as heiliges tot God se eer!

Mag die genade van Jesus Christus ook met jou gees bly vandag!

Gebed: Here U is Heilig en goed, dankie dat U my ook heilig en my aanneem as u kind. Gee dat ek heilig sal lewe, afgesonder en gewy aan U. Help my om ook met liefde ander mense na U toe te lei, want by U is daar ware genade.  Amen

Previous article: Die Woord, die Lewe - 25 Maart 2015 Prev Next article: Deel ook in mekaar se swaarkry - 23 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.