Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die waarheid en die leuen - 30 Maart 2015

Stephan Hoffman

Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld 1 Johannes 4:1-3

Lees 1 Johannes 4:1-21

Om te kan onderskei tussen die waarheid en die leuen is baie belangrik. In die ou Griekse filosofie is daar baie gedink oor wat waarheid beteken. Johannes sê dat ons as gelowiges die ware en valse gees van mense kan onderskei deur mooi te luister wat hulle verkondig. Weereens lyk dit of daar net twee opsies is, jy verkondig of dat Jesus Christus mens geword het en die dood kom oorwin het, of jy verkondig iets anders. Jesus Christus bly maar die fondament waarop jy bou of die klip waaroor jy val.

Johannes onderskei ook tussen mense wat uit en van God is of uit en van die wêreld is. Die enigste manier om agter te kom of jy van God of van die wêreld is, is om vir jouself te vra : “Het ek God en ander mense werklik onselfsugtig lief?”. Die rede hoekom ek moet liefhê is nie omdat ek so goed of edel is of omdat hulle dit verdien nie, maar omdat God my eerste liefgehad het. God het ook nie lief omdat ons dit verdien nie, inteendeel verdien ons eerder God se straf, God het ons lief omdat dit sy aard is. God is onselfsugtig, Johannes sê: “God is liefde”.

Dit lyk of daar ook twee soorte kragte of motivering is in die lewe. Of jy word gedryf deur vrees, of jy word gemotiveer deur liefde. Vrees jaag jou aan van agter af, jy verwag staf en hardloop weg, maar dit haal jou altyd weer in. Liefde motiveer jou vanuit die toekoms. Jy sien die nuwe lewe wat Christus reeds vir jou bewerk het voor jou lê en God se liefde trek jou nader. Hierdie liefde van God skyn soos ‘n lig in die donker tonnel van ons bestaan in en verlig ons omstandighede en ons harte met hoop.

Jy kan hierdie liefde van God nie vir jouself hou nie, dit sou wees soos om in te asem en nie weer uit te asem nie. Om ‘n lewe van liefde te leef moet jy die liefde wat jy ontvang ook uitdeel aan ander. Kom ons kies opnuut om in die lig van die waarheid te lewe. Kom ons kies om vanuit God se genade te lewe. Kom ons kies om ons te laat motiveer deur liefde en nie deur vrees nie!

Die wêreld het liefde nodig. Mense wat vasgevang is in die vreesagtige bestaan van die wêreld en voort gedryf word deur vrees en selfsug het die lig van God se liefde so nodig. Kom ons gaan wys sommer nou vir iemand wat nog in die donker verdwaal, dat daar waarheid, liefde en hoop is in Jesus Christus.

Gebed: Here, ek dank U vir liefde. Ek kies om in u waarheid te lewe. Ek kies om my deur liefde te laat lei. Help my asseblief deur u Gees, sodat ek U sal volg.  Amen.

Previous article: Oorwinnaars - 31 Maart 2015 Prev Next article: Sy kinders - 27 Maart 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.